Die munisipale bestuurder van die Magareng-munisipaliteit in Warrenton, Tumelo Thage, het homself daartoe verbind om toe te sien dat ’n bykans onbegaanbare grondpad in dié dorp verbeter sal word.
Dit volg nadat Deidre Watson, DA-raadslid, hom na die pad vergesel het en die omvang van die probleem uitgewys het.
Volgens ’n verklaring van die party is Warrenstraat ’n vleiland weens lekkende waterpype; blykbaar deur die nalatigheid van vorige kontrakteurs om nie ’n nuwe pypleiding in te sit nie.
Die gebrek aan ’n stormwaterafvoerstelsel dra tot die toestand van die modderpad by. Water van die vorige reënseisoen syfer en vloei deur oop gebiede tot in Warrenstraat.
Die toestand van die pad is die afgelope jare reeds vir inwoners ’n probleem. Koeriermaatskappye weier om die pad te gebruik wanneer pakkies by inwoners in die straat afgelewer moet word. ’n Voertuig van ’n koeriermaatskappy het voorheen al in die modder vasgeval en moes deur ’n inwoner uitgesleep word.
Boonop kan die rioolvragmotor ook nie sy dienste in dié deel van die dorp lewer nie, wat die oorstroming van rioolstelsels tot gevolg het.
Weens die onbegaanbaarheid van Warrenstraat het inwoners besluit om die pad, wat slegs deur 4×4-voertuie gebruik kon word, op hul eie te herstel.
Voertuie van koeriermaatskappye, asook noodvoertuie, kan nou weer intussen die pad gebruik.
Watson sê die party sal voortgaan om druk op die munisipale bestuurder te plaas om die kern van die probleem op te los.“Inwoners van Warrenstraat is net so ’n deel van die munisipaliteit soos enige ander inwoner, en moet hul daaglikse lewe kan aanpak sonder die uitdaging om nie in modder vas te val nie,” sê Watson.


