‘Dorpie’ kleur dae in

Ná jare hou ’n “kabouter­dorpie” steeds ’n inwoner van Kimberley se verbeelding aan die gang.


Ná jare hou ’n “kabouter­dorpie” steeds ’n inwoner van Kimberley se verbeelding aan die gang.

Dié dorpie is Fanny Fouché (97) se groot passie en verskaf kleur aan elke dag. Elke kabouter het ’n naam en sy vertel graag allerhande stories oor hulle.

“Sy het altyd die stories in ’n boek geskryf en ons wou dit as ’n kleuterboek laat publiseer,” vertel Lona Krause, haar dogter wat in Milnerton in die Wes-Kaap woon.

“Sy het nou opgehou om die stories te skryf, maar sy leef haar steeds in dit in.”

Benewens die kabouter­dorpie maak Fouché nog self tuin. Tot onlangs het sy gereeld naaldwerk gedoen. Sy brei en hekel steeds en brei graag serpe vir ’n liefdadigheids­organisasie.

Sy is op 23 Desember 1924 in Kuruman gebore en het op ’n plaas in die distrik grootgeword. Sy het in Seodin skoolgegaan en daarna op ’n plaas naby Severn gewoon.

In 1947 is sy met Roelf Fouché getroud. Die egpaar het in 1977 na Kimberley verhuis.

Kort nadat Roelf in 1985 oorlede is, het Fouché in ’n woonstel op haar dogter Isabel Venter se erf in Royldene ingetrek.

In Desember, op haar 97ste verjaardag, het Fouché se twee oorlewende dogters, haar seun Chris van Griekwastad, twee klein­dogters én agterkleinkinders die spesiale dag meegemaak. As geskenk het hulle die kabouterdorpie “opgradeer”.

Dié dorpie kan van die straat af besigtig word.

Verwerk, Helena Barnard

In Fanny Fouché se kabouterdorp het elke karakter ’n naam. Oor elkeen kan sy verskeie stories vertel.

You need to be Logged In to leave a comment.