Die duikweg in Schreuderstraat (N14) en sommige parke in Upington is weer netjies nadat DA-raadslede van die Dawid Kruiper-munisipaliteit en ander aktiviste dit op 27 April, Vryheidsdag, skoongemaak het.
Volgens Erica Strauss, DA-raadslid, is Schreuderstraat een van die besigste strate in die dorp omdat dit daagliks deur inwoners en toeriste gebruik word. Die duikweg is tussen wyk 7 en wyk 9 aan die punt van die sakekern geleë.
“Dit was gevaarlik vir voetgangers omdat dit so vuil en oorgroei was. Boonop was dit ’n onooglikheid,” sê sy.
“Die munisipaliteit moet meer skoonmaakprojekte in Upington doen en strenger teen rommelstrooiers optree. Deur hierdie gebiede skoon te maak is dit ook vir inwoners veilig gemaak.”
Vrywilligers van wyk 2 en 10 is betrek en masjinerie is ingespan. In wyk 16 en 17 het raadslid Magda Eiman en nog aktiviste inwoners se dakke reggemaak.
Die raadslede meen dié skoonmaakprojek het die gemeenskap meer betrokke gemaak en bewustheid oor rommelstrooiery gekweek.
“Ons het twee vragmotors vol rommel, en nog een vol gesnoeide boomtakke, gras en vullis, by die duikweg volgemaak en dit na die stortingsterrein geneem. In die parke is 79 sakke vullis opgetel en weggery. Altesaam 65 mense het gehelp om skoon te maak.”




