Dorp beoog nuwe hoogtes

Die vooruitsig van dreunende vliegtuie en die roesemoes van toeriste op ’n herontwikkelde lughawe het op Vrydag 25 Maart in Victoria-Wes nader aan ’n werklikheid gekom met ’n geskiedkundige ondertekening van ’n huurooreenkoms tussen die Ubuntu-munisi

’n Knipsel uit die boek Victoria-Wes se 100 jaar 1859-1959, waarin een van Imperial Airways se vliegtuie op die lughawe uitgebeeld word.

Foto: Victoria Wes-museum Credit: SYSTEM

Die vooruitsig van dreunende vliegtuie en die roesemoes van toeriste op ’n herontwikkelde lughawe het op Vrydag 25 Maart in Victoria-Wes nader aan ’n werklikheid gekom met ’n geskiedkundige ondertekening van ’n huurooreenkoms tussen die Ubuntu-munisipaliteit en die Rural Aerodrome-maatskappy.

Na verwagting sal die ontwikkeling van die ou Victoria-Wes-lughawe meer as R87 miljoen in die plaaslike ekonomie pomp.

Volgens Caroline Ungersbock, uitvoerende hoof van die Rural Aerodrome-maatskappy, het die onderhandelingsproses, waarin die Noord-Kaapse regering en die tesourie ook betrek is, meer as vyf jaar geduur. Die maatskappy het die huurooreenkoms met die munisipaliteit aangegaan om die lughaweterrein vir 22 jaar te huur, met die opsie om dit te hernu.

Die ontwikkelingsprojek sal in fases geskied, wat die opknapping van die geboue en aanloopbaan behels, asook die bou van ’n vliegskool, brandstof-aanleg en sakesentrum.

Die ou lughawe in die Art Deco-styl gaan weer die internasionale bestemming word wat dit eens was. Destyds het lugrederye soos Imperial Airlines, wat tussen Engeland en Suid-Afrika gevlieg het, en die SAL met kleiner vliegtuie tot in die vroeë 1970’s hier brandstof ingeneem.

“Ons planne behels onder meer die bestuur van die lughawe-infrastruktuur en -logistiek en ’n vliegskool waar vlieëniers opgelei word, sê Ungersbock.

“Die oogmerk van die projek is om toerisme te bevorder, gemeenskappe te bemagtig en werksgeleenthede te ontwikkel. Die lughawe behoort die ekonomiese kern te word waarom verwante besighede kan ontstaan.”

Selfs mense wat by die SKA-radioteleskoop op die nabygeleë Carnarvon betrokke is, kan hier aandoen.

Maklik sal dit egter nie wees nie. Die ou Art Deco-gebou is gevandali­seer, wat onnodige koste meebring. Altesaam R350 000 is reeds aan strukturele opnames bestee.

Ungersbock, sakevrou en entrepreneur, is bekend in toerismekringe. Sy is so verlief op die Karoo dat sy ’n jaar gelede haar huis in Johannesburg opgepak en na Victoria-Wes verhuis het.

“Ek moet veral dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, en Romano Jacobs, finansiële hoof en waarnemende munisipale bestuurder, bedank vir hul toewyding om die ooreenkoms te bereik.”

Sy sê Jacobs het die geduld en deursettingsvermoë gehad om die ooreenkoms te bereik.

“Hy het die kontrak aan die raad oorhandig wat deur sy opvolger, Noncebo Mkontwana, onderteken is. Ons sien dit as sy nalatenskap. Hy het toegesien dat die wetlike vereistes en bepalings nagekom word.”

Jacobs meen dié projek van die openbare en private sektor sal die munisipaliteit geldelik en operasioneel versterk.

“Die projek sal ons demokrasie verstewig deur morele en ekonomiese opheffing. Indien die projek goed slaag, gaan dit ’n bloudruk vir ander sukkelende munisipaliteite word.”

Volgens Louis Kruger, bestuurskonsultant wat die onderhandelinge gefasiliteer en namens die Ubuntu-forum vir sosio-ekonomiese ontwikkeling opgetree het, is toerisme ’n groot dryfkrag vir ekonomiese ontwikkeling, maatskaplike vooruitgang en bemagtiging in munisipale gebiede.

“Politici en ekonomiese kenners meen dit is van die uiterste belang dat munisipaliteite deur regulatoriese sekerheid ’n omgewing skep waarin ekonomiese ontwikkeling kan plaasvind en waar mense wil bly, werk en belê,” sê Kruger.

“Die ooreenkoms is ’n konstruktiewe stap om dit in ’n onstuimige land te vermag, solank daar wedersydse respek tussen owerhede, sakelui en die gemeenskap is. Uithouvermoë en vasberadenheid word geverg om die uitdagings te oorkom. Kitsoplossings is nie volhoubaar nie.

“Dink net aan die opleidings-, sake- en werksgeleenthede wat wink. Toelae en werkskepping wanneer mense tydelike werk op projekte doen, is beslis nie die volhoubare indiensneming waarna die gemeenskap streef nie.”

Agter die ou lughawegebou hou Caroline Ungersbock, uitvoerende hoof van die Rural Aerodrome-maatskappy, die planne van die voorgestelde ontwikkeling vas.

Die voorkant van die ou Art Deco-lughawe wat oor die jare heen gevandaliseer is. Opknapping word vereis, asook die bou van ’n nuwe aanloopbaan en brandstofgeriewe.

You need to be Logged In to leave a comment.