Kyk jy misdaadrolprente, sien jy oortreders oral oor het dieselfde probleem: hoe om van hul slagoffers ontslae te raak. Dit is waarskynlik waar die uitdrukking “dooie gewig” vandaan kom.
Ek het nie self hiermee ondervinding nie, maar ek weet hoe dit voel om ’n slapende kleuter van die vloer af tot in die bed te probeer kry.
Dit is ’n gesukkel.
So ek kan my voorstel hoeveel energie dit moet verg om ’n volwassene se dooie gewig te skuif.
Ongelukkig kom die uitdaging van dooie gewig nie net in speurverhale of moordstories voor nie.
Baie mense het kollegas wat hulle as dooie gewig beskou. Mense wat net nie hul deel doen om die wa deur die drif te kry nie.
Gestel daar is vier mense wat letterlik ’n wa deur ’n drif moet kry. Gestel een van hulle help nie stoot nie, maar stap net saam. Dalk is hierdie een se arms op die wa om dit te help stoot, maar hy of sy sit geen energie daarin nie. Die las op die ander drie word soveel meer.
Dalk sonder dat hulle dit besef.
Soms verlaat iemand die diens van ’n werkgewer. In baie gevalle is kollegas benoud as hierdie mens se pos nie vinnig gevul word nie. Totdat hulle besef dat hulle eintlik baie makliker sonder hierdie dooie gewig vorder.
Is jy iemand wat jou eie gewig dra en jou deel lewer? Of staan jy as dooie gewig bekend?