’n Diens is verlede week in Kimberley gehou om die lewe van Adré Els te gedenk.
Hy was die jongste seun van wyle Piet Els, multimiljoenêr en bekende Kimberliet.
Adré (41) is op 6 Julie dood op sy wildplaas by Schmidtsdrift aangetref. Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê familielede het hom om 11:00 dood op die plaas gekry met ’n wond aan sy kop en ’n geweer naby hom. Geen misdaad word vermoed nie.
Die gedenkdiens het op Woensdag 13 Julie in die Taberna Dei Diamantstad plaasgevind.
Pieter, sy ouer broer, het mense op Facebook vir hul ondersteuning en bemoediging bedank. Huldeblyke het op dié sosialemediaplatform ingestroom.
Minette Swiegers, ’n goeie vriendin, wat ook vir hom gewerk het, het met ’n emoji aangedui dat haar hart gebreek is. Sy het geskryf: “My Janneman, ek verlang so baie.”
Tiaan van Wyk het ook sy meegevoel betuig: “Ek’t nou gebid vir Adré laat hy met Jesus is. Ek glo hy is met Jesus aan sy voete. Amen.”
Frank Warren beskryf Adré as nederig: “Het nog nooit so nederige mens in my lewe ontmoet nie. Was ’n voorreg om jou te ontmoet. Rus sag by die voete van God.”
Adré was onder meer ’n wildboer, eiendomsontwikkelaar en eienaar van ’n restaurant in Kimberley.
Sy pa, ’n boer en ’n bekende in diamantkringe, is in 2018 op sy plaas vermoor.
Adré het vroeër vanjaar in die verhoor teen die sewe beskuldigdes getuig. Die aanval op die nag van 23 Januarie 2018 in Piet (86) se huis op Carters Ridge, sy plaas net buite Kimberley, het opspraak verwek weens die wreedheid van die aanval waarin hy gemartel en sy vriendin, Rikkie Alsemgeest (67), na bewering met ’n strykyster gebrand is.
Piet is weke later in die Mediclinic Gariep aan sy wonde dood.
In die verhoor het Adré getuig oor die polisie se vonds van sy pa se trouring, waaruit die diamant verwyder is.
Sy pa het ook oudpres. Jacob Zuma ontmoet.
Adré, wat geskei is, het ook getuig sy trouring is uit sy pa se kluis gesteel.
Hy het ná sy pa se dood die bekende Star of the West, een van Kimberley se oudste kroeë, opgeknap en ’n restaurant gebou. Hy was ook saam met Pieter, by eiendomsontwikkeling betrokke.
Hul ma is jare gelede in ’n motorongeluk oorlede.
Wiaan van der Linde, ’n medewildboer, sê Adré se heengaan laat ’n leemte in die bedryf.
“Hy was tien jaar in die bedryf en het onlangs wild op die Wiru Wildswinkel-veiling verkoop. Hy het as Els Game Breeding ’n baie belangrike rol gespeel deurdat hy wildboere in moeilike tye geweldig ondersteun het deur hul genetika aan te koop. Dit is nie goed om jong boere soos hy te verloor nie.”


