’n Buitelander wat as dokter by ’n mediese praktyk in Kimberley gewerk het en moontlik ’n tiener verkrag het, is volgens die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nie ’n geregistreerde dokter in Suid-Afrika nie en onwettig in die land.

“Die NVG het twee klagte by die klagstaat gevoeg nadat Ilunga Kalasa (38) erken het dat hy nie in Suid-Afrika as dokter geregistreer is nie,” sê Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse woordvoerder vir die NVG.

Kalasa het Donderdag (24/11) in die streekhof in Kimberley verskyn en bly in aanhouding. Hy word nou van seksuele aanranding, verkragting, oortreding van die Wet op Immigrasie en ’n oortreding van die Wet op Gesondheid aangekla.

Kalasa, ’n burger van die Demokratiese Republiek van die Kongo, het as assistent-dokter by die praktyk van dr. S.M. Nhlapo in Kimberley gewerk.

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe het bevestig Kalasa is nie by hom as gesondheidswerker geregistreer nie.

Hy word daarvan aangekla dat hy ’n 17-jarige meisie verkrag het en ’n 25-jarige vrou in April vanjaar seksueel aangerand het toe hulle by hom vir mediese behandeling was.

Kalasa is in September in hegtenis geneem nadat hy die 17-jarige op 15 Augustus ondersoek en glo verkrag het.

Die tiener, wie se ma dood is, is deur haar pa na die kliniek geneem en Kalasa het glo vir die pa gesê hy mag nie tydens die konsultasie teenwoordig wees nie.

Kalasa het na bewering aan die meisie gesê hy wil met haar trou wanneer sy 20 jaar oud is en haar aangesê om al haar klere uit te trek.

Hy het haar verkrag en beveel om nie daaroor te praat nie.

Die meisie het op 16 Augustus aan ’n familielid gesê dat sy verkrag is, waarna ’n klag ingedien is.

Die staat het in September tydens Kalasa se borgtogaansoek gesê ’n 17-jarige meisie het in 2021 ’n soortgelyke klag teen Kalasa ingedien, maar sy het dit teruggetrek omdat sy te getraumatiseer was.

Senokoatsane sê Kalasa moet weer op 10 Januarie in die hof verskyn.

Alet van der Walt

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article