’n Groep vrywilligers bekend as Kimberley: Bring back the sparkle, onder leiding van Johan Smit, het die afgelope naweek agt blombakke by die Kimberley-stasie skoongemaak en beplant.
Die stasiegebou is vlak voor die JW Sauer-gebou waar die Noord-Kaapse premier se raadsaal op die sesde vloer oor die parkeerterrein en ingang uitkyk.
Die mooimaakprojek is in samewerking met die Sol Plaatje-munisipaliteit gedoen wie se werkers blomplante gebring en dit natgelei het.
Phoebe Loff van Phoebe’s Green Team se 24 werkers het verlede week reeds die groot blombak (die eertydse fontein) omgespit, die parkeerterrein gevee en lang gras op die sypaadjies verwyder.
Sy neem kwesbare jeugdiges in diens en die munisipaliteit betaal hulle om die stad te help skoonmaak.
Smit sê hy hoop hul werksywer en bereidwilligheid om ’n verskil te maak is aansteeklik en dat meer inwoners betrokke sal raak. Die volgende projek is om die hooftoegangsroetes na die stad skoon te maak. Die eerste is die park in Moghulpark op die N12.
“Ons kan nie net kla dat die stad vuil is nie, ons moet inspring,” sê Smit, ’n VF Plus-proporsionele raadslid.
“Ons het by die stasiegebou begin omdat soveel toeriste hier aankom, soos op Rovos Rail.”
Smit is deur Sanet Gouws ondersteun wat ook blomme help plant het.
“Ek is afgetree en wil myself in iets betekenisvol uitleef. Kimberley met sy besonderse ou geboue is ’n pragtige stad wat weer moet sprankel,” sê sy.
Martha Marshall wat al 37 jaar in die stad bly, wil ’n beter lewe hê.
“As jy uit ’n taxiruit uitkyk, lyk die stad aaklig. Nou maak ek skoon.”
Tania Loubser en haar jong dogter, Alané, het ook in die grond gekrap. Tania sê mense moet ophou kla.
“Niks gaan verbeter nie. Maak eerder ’n verskil, doen iets en leef jou trots uit.”
Rodney Bartlett, wat gewoonlik as sekuriteitsman by ’n nabygeleë slaghuis fooitjies verdien deur motors op te pas, het hom by die groepie vrywilligers aangesluit met die verbyloop.
“Ek was vandag lus om eerder blomme te plant.”
Neo Dammie is ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool William Pescod en is gek oor plante.
“Dit is vreeslik lekker om die grond te werk.”
Bridgit Afrika se pa, April Afrika, werk by die munisipale parke-afdeling.
“My agterkleinkinders moet sien hoe ons die stad se glorie weer herstel. Ek leef myself uit hier.”
Haar pa en sy kollega, Haashim May, het die plante namens die munisipaliteit gebring en die plante natgelei. Bliss, ’n koffiewinkel in Roperstraat en digby die stasie, het agterna koppies koffie vir die werkers en vrywilligers vir hul moeite gebrou.


