’n Man wat sy mededobbelaar na ’n argument oor ’n R100-noot doodgesteek het, is in die streekhof in Kakamas tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Pius Salvator April (49) is Donderdag tronk toe gestuur weens die moord op die 27-jarige Nadine Snyers.
April en Snyers was deel van ’n groep mense wat in Cillie gedobbel het.
In die vroeë oggendure van 1 Februarie vanjaar het ’n hewige woordewisseling tussen die twee oor ’n R100-noot ontstaan.
Daarna het April omstreeks 04:00 ’n mes uitgepluk en Snyers een keer in haar bors gesteek.
Die beseerde Snyers is in ’n motor na ’n hospitaal in Kakamas geneem.
Sy is met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.
April is dieselfde dag in hegtenis geneem.
Brig. J.K. Besnaar, die waarnemende distrikskomissaris van die Z.F. Mgcawu-distrik, het die ondersoekbeampte, ao. Eddie Van Rooi van die Kakamas-speurtak, vir die uitstekende ondersoekwerk geprys.
Besnaar sê hy hoop dan ook dat dié vonnis ’n boodskap sal uitstuur dat geweld teen vroue nie geduld word nie.