’n Geliefde polisieman van Kakamas dien reeds die gemeenskap getrou vir vier dekades.

AO Frikkie van Wyk van die speurtak in Kakamas het op 9 Julie sy 40ste jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens herdenk.

Frikkie van Wyk

AO. Frikkie van Wyk

Van Wyk, wat die afgelope 21 jaar ’n speurder is, se loopbaan het in 1980 by die destydse Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie in Philippi begin. Daarna was hy in die sentrale deel van Kaapstad, Hutchinson en Victoria-Wes gestasioneer voor hy by die Kakamas-speurtak aangesluit het.

Van die hoogtepunte van sy loopbaan is toe sy speurwerk daartoe gelei het dat Sarel Adams Pannas (47) van Kakamas tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is. Pannas het op 1 Februarie 2015 ’n 49-jarige vrou by Happy Valley, Langverwag, met ’n stukkende bottel aangeval waarna sy dood is en hy is in 2018 aan moord skuldig bevind.

Van Wyk se speurwerk het ook bygedra dat Patrick Itumeleng Motlogelwa (25) in 2017 gevonnis is. Hy het ’n 19-jarige vrou verwurg, is van strafbare manslag aangekla en het nege jaar tronkstraf ontvang. Twee jaar hiervan is vir vyf jaar opgeskort.

You need to be Logged In to leave a comment.