“Some wounds never show, not even in the mirror, until we see them in the expressions on the faces of people we love.” – Cameron Jace, Cinderella Dressed in Ashes
Die letsels van emosionele wonde kleef soos dormante pitswere. Op die oog af span die vel glad daaroor, maar in die donker ure kan dit kloppend pyn. Op ’n dag kan iets die sweer ontketen en emosies soos lawa uitborrel. Of dit nou ’n toespaak by ’n onthaal is, ’n onverwagse kompliment, ’n baba se lag, of ’n liedjie op die radio.
Die mens se wese sit in sy gene, en in sy of haar grootwordjare. Die hartseer en die vreugde daarvan. Die hoogtepunte, die laagtepunte.
Baie daarvan is verberg, tog bly van die seer wat ouers, onderwysers en andere aangerig het net onder die oppervlak.
Letsels is alomteenwoordig. Dit is nie net middeljariges of bejaardes wat swaar dra nie.
Jongmense ook, veral in ’n tyd dat boelies, groepsdruk en sosiale media die grootword bemoeilik. Jong mans wat weens afwesige ouers nie geleenthede het om te studeer nie en ronddobber, jong mans wat deur hul pa’s verneder is en versugting in alkohol soek, of onsekere meisies en vroue wat misbruik en gemanipuleer word.
Al probeer jy jou skade met opvoeding, beter lewenskeuses en prestasies neutraliseer, is daar altyd ’n onbewaakte oomblik wanneer dit opborrel.
Oomblikke waarin jy mag snik, uitpraat, huil, stil word in ’n omhelsing van ’n vertrooster. Dit bring verligting, aanvaarding, vertroosting.
Wees hier vir jouself, vir hulle, vir ons.

