Rusbankuitgewer. Dit is Pharos Woordeboeke se Afrikaanse woord vir Junie.

Dit beskryf ’n lid van die publiek wat ongeredigeerde videomateriaal, sy eie interpretasie van gebeure, en so meer, as kitsnuus op die internet en die sosiale media versprei.

Net soos kitskos word dié kitsnuus vir soetkoek opgevreet.

En soos dit met kitskos en soetkoek is, bederf dit ’n mens se smaak vir die heilsaamheid van gesonde kos en samesyn.

Spookasemkos, soos rubberige wegneemhamburgers, olierige skyfies en slap pizza wat bykans net deeg en ’n dik sous is – wat ’n mens gedagteloos voor die televisie verorber en daarna laat moeg voel; én onversadig. Plaas dit teenoor ’n potgebraaide stukkie vleis, met aartappelhalwes in dié vleisvet gaargemaak, selfgekerfde groenbone met die regte hoeveelheid witpeper, en voeg selfs outydse pampoenkoekies met karamelstroop of kaneelsuiker by.

Geniet die bord kos om ’n tafel saam met mense met wie jy praat en wat jy in die oë kyk. Wanneer jy opstaan, is jy versadig en tevrede.

Só is die verskil tussen hierdie rusbankuitgewers se kitsnuus en nuus wat werklik bedink en met gedagte geskryf is.

“Soos wat die wêreld oorspoel word met skrywes, so lees mense, maar dit help nie altyd om dinge beter te verstaan nie en ook nie om rigting te gee nie.”

Dit is die mening van dr. Dawid Kuyler, ’n leraar van die Verenigende Gereformeerde Kerk in ’n artikel op Netwerk24.

Die probleem, skryf hy, is dat elkeen met ’n rekenaar en ’n slimfoon, skryf. Meestal is dit wat hulle skryf ’n klakkelose oorname van ander se mening.

“Ek voel soms dat ek te veel onnodige goed op sosiale media lees. Ander kere voel ek dat ek te min lees, veral boeke wat saak maak. Boeke wat my nuut laat kyk na myself en die wêreld,” skryf hy, en spreek sy wens uit dat Suid-Afrikaners weer ’n leeskultuur sal kry; en sal lees om beter te verstaan.

“Wie nie lees nie, sal nie weet nie,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article