Die hele wêreld beleef swaarkry weens ’n virus wat niemand ontsien nie. En ja, baie rampe het ons al getref wat ons nie veroorsaak het nie.
Ons is sprakeloos wanneer dit gebeur en antwoorde ontbreek ons.
Maar hoe gemaak wanneer ons as’t ware kies om swaar te kry? Wat as ons opstaan vir ’n goeie saak en dan swaarkry?
Petrus het goeie raad wanneer dit met jou gebeur. In 1 Petrus 2 en 3 skryf hy oor vyf gebiede van die lewe waaraan gelowiges aandag moet gee. Hy sê ons moet individueel geestelik groei uit die Woord, ons moet as geloofsgemeenskap saam groei, ons moet let op ons gedrag in die algemene samelewing, ons moet in die arbeidsmark ons werkgewers respekteer, en ons moet reg in die huwelik optree.
Hy grond sy raad op Jesus se lyding, veral as hy sê dat ons altyd goed moet optree wanneer ons benadeel word. Jesus is sleg behandel al het Hy dit nie verdien nie. Die teendeel is eerder waar: Hy het niks verkeerd gedoen nie.
Petrus noem vier dinge: Ons moet op God vertrou vir die regverdige oordeel en nie self besluite hieroor maak nie, ons moet vir geregtigheid leef, ons is reeds genees, en ons leef in ’n versoende verhouding met God deur Jesus. Daarom moet ons nie bang raak in swaarkry nie.
Ons moenie terugdeins vir spot en verwerping nie, ons moenie terugstaan vir wat ons glo nie.
Inteendeel, ons moet vir mense in die bres tree wat onbillik behandel word, probeer verseker dat almal regverdig hanteer word, die stem wees van die stemloses.
Ons moet ook soos Jesus optree om ander se lewe positief te verander.
Wanneer dit jou doel is om mense te help, sal Jesus jou in genade bystaan om die pad te voltooi. Dit is wat Hy wil hê, en daarom sal jy nooit alleen hierin wees nie.