Lesersbrief: Die Oog het glans verloor

Cillie Lombaard se brief in NoordkaapBulletin van 9 Desember, waarin die vervalle toestand van Die Oog aangevat word, het betrekking.


Cillie Lombaard se brief in NoordkaapBulletin van 9 Desember, waarin die vervalle toestand van Die Oog aangevat word, het betrekking.

Baie jare gelede was Die Oog, asook die parke, wildkamp en begraafplaas in die dorp, ’n toonbeeld van goeie versorging.

Een mens en sy span was vir hierdie afdeling verantwoordelik. Om Die Oog was dit skoon en die kafee het eet- en drinkgoed voorsien. Die visse is met brood uit die kafee gevoer.

Dié is sedertdien opgevang en geëet.

Die dam was oortrek met waterlelies en daar was ’n spuitfontein. Dit was ’n plek om rustig te ontspan.

Die parke in en om die dorp was ’n sieraad, met besproeiingstelsels, swaaie en glybane vir die kinders van die gemeenskap. Die begraafplaas was sonder onkruid en die grafte genommer en maklik om te vind. Die wildkamp was die trots van die gemeenskap, met ’n groot verskeidenheid wild, waaronder kameelperde en renosters.

Deesdae is die kamp leeg; hier en daar net ’n spinnekop en toktokkie.

Op die Seodin-pad lê die relings plat, en die wandel- en fietspad is oorgroei met gras, bosse en doringbome.

Sal die huidige bewindhebbers ooit weer alles tot die oorspronklikke glorie kan herstel?

Anton Esterhuyse,

Kuruman

You need to be Logged In to leave a comment.