Geen olifante, swart­renosters of luiperds mag in dié seisoen gejag word nie omdat die regering se besluit oor die jagkwotas vir dié bedreigde diere nie openbaar gemaak is nie.

Regter Patric Gamble van die hooggeregshof in Kaapstad het Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, vroeg in Mei met ’n interdik verbied om haar besluit vir die jag van 150 olifante, 10 swartrenosters en 10 luiperds uit te voer.

Creecy is ook verbied om die jagkwotas vir 2022 in die Staats­koerant te publiseer. Sy mag ook nie die getal trofeë publiseer wat jagters sou kon uitvoer nie.

Gamble het provinsiale owerhede verbied om jag-en-uitvoerpermitte vir olifante, swartrenosters en luiperds uit te reik.

Dié beslissing volg nadat die Humane Society International se Afrika-tak hom tot die hof gewend het nadat Creecy vroeër vanjaar die jagkwotas vir hierdie bedreigde diere bekend gemaak het.

Gamble sê sou die hof later bevind die jagkwotas is op suiwer wetenskaplike gronde bepaal, kan die permitte steeds later uitgereik word. Dit sal beteken dat die geldelike voordele wat uit die jagtogte sou spruit, nie verlore is nie.

Alle ander trofeediere kan steeds gejag word.

Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article