’n Heeltydse beesboer van die Douglas-omgewing beoefen fietsry “so op die kantlyn”, maar tog het dié boer, Colleen Jacobs, in Januarie die Attakwas Extreme-bergfietswedren ’n 12de keer voltooi, en ’n agtste keer in haar ouderdomsafdeling gewen.
Jacobs, wat enkele jare gelede deur ’n vrouetydskrif in ’n artikelreeks oor boere as ’n “cattle whisperer” beskryf is, vertel sy is tot dusver die enigste vrou wat die Attakwas 12 keer voltooi het.
Van die 12 wedrenne was sy vier keer tweede in haar ouderdomsafdeling, en agt keer eerste.
“Dit is ’n baie tawwe wedren. Deelnemers val gereeld; breek sleutelbene. Die los klippe of opdraandes en afdraandes maak dit baie uitdagend,” vertel sy en sê die afdraandes is baie maal erger as die opdraandes.
“Ek sal dan eerder afklim en my fiets stoot. Dié wat val, is gewoonlik dié wat teen ’n spoed aanhou ry. Maar ek het steeds ’n paar duidelike bloukolle om te wys,” vertel sy.
’n Hoogtestyging van 2 900 m vind oor die roete van 121 km plaas. Dié roete begin in die Oudsthoorn-omgewing, strek oor ’n deel van die Swart- en Outenikwa-berg en deur ’n gedeelte van die Attakwaskloof, om by Groot-Brakrivier aan die kuslyn te eindig.
Volgens atta.co.za, kan die eerste deel van die roete reeds die einde van talle deelnemers se hoop beteken, weens ’n besering of meganiese probleme met ’n fiets.
Die afdraandes en opdraandes met los en gladde klippe word as genadeloos beskryf.
“Die eerste sowat 70 km van Oudsthoorn tot oor die Swartberge is die ergste deel,” sê Jacobs.
Behalwe die hellings wat deelnemers moet trotseer, is wind en uiterse temperature verdere uitdagings.
“Verlede jaar was dit so 53 °C in die klowe; vanjaar was dit darem net so 42 °C,” vertel Jacobs.
“Tydens die wedren gooi ek my kop nat om koel te bly. Wanneer die wind waai, is dit nog meer uitdagend.”
Jacobs, wie se mikpunt dit was om die Attakwas tien keer te doen, sê sy en haar man, Johan, en hul twee dogters en een seun is baie aktief en hou van oefening. Die jongste dogter neem juis binnekort aan ’n volle ystermankompetisie deel.
Jacobs en haar man het begin fietsry omdat dit as ’n goeie oefening vir probleemknieë aangeraai is.
So het dit gebeur dat hulle twee in 2007 ter voorbereiding vir die Cape Epic-fietsren in die Mosselbaai- en Hartenbos-omgewing gaan oefen het omdat die omgewing rondom Douglas relatief plat is. Tydens dié oefen-ekspedisie het hulle fietsryers ontmoet wat vir die Attakwas voorberei het, en hulle het die Jacobs-egpaar saamgenooi.
“Daardie dag het ons besef ons kort baie meer voorbereiding. Hulle het ons sewe ure laat trap, en ’n vierdagoefenkamp gereël waartydens ons passe moes ry, ’n maand voor Epic. Deelname aan die Attakwas was deel van ons oefening vir die Epic.”
So het die Jacobse hul eerste Attakwas in Januarie 2008 gery – nog voor die Cape Epic ongeveer twee maande later, waarvoor hulle eintlik geoefen het.
Jacobs was nog altyd gaande oor sport en het op skool aan kortafstandatletieknommers en hokkie deelgeneem.
“Ons is maar gedurig aan die oefen en voorberei,” sê sy.
Hulle gesin ry gereeld fiets, skryf vir soveel fietsrenbyeenkomste in as moontlik, en oefen in die gimnasium in die dorp.
Op 4 Maart durf hulle die Suid-Afrikaanse Nasionale XCO-kampioenskappe in die Rhebokskloof in die Paarl-omgewing aan, en die naweek daarna die Kaapstad-fietsren (voorheen die Cape Argus).
“Dit is altyd lekker om saam met die kinders deel te neem. Ons het in 2022 saam die negedag-Joberg2C gedoen. Ek wil graag nog saam met my kleinkinders ook deelneem,” sê sy.
Kobus Burger, president van die Noord-Kaapse fietsryfederasie, sê Jacobs se prestasie is ’n getuienis van haar vaardighede en vasberadenheid, en dat dit ’n bron van trots vir die provinsie is.
Hy beskryf haar as ’n inspirasie, en wens ook die ander Noord-Kapenaars geluk wat die wedren voltooi het.


