Die jaar 2020 laat onderwysers en kinders se emosies wipplank ry.
In Januarie het graadeentjies, gr. 7’s en matrikulante hul skooljaar met groot entoesiasme hier in die Kalahari begin.
Vir die kleintjies was daar bietjie trane, snikke en selfs gille toe hulle aangetree het vir hul eerste dag in die “groot skool”. Matrieks kon voel dit is die eerste tree na die grootmenswêreld. En die meeste gr. 7-leerlinge het opgewasse nes “matrikulante” gevoel.
Wie sou kon dink dat dié jaar selde ’n vervelige oomblik sou hê.
Een van die leerlinge (13) vertel hoe sy die Covid-19-pandemie sien en hoe dit haar lewe verander het.
Die krulkop-meisiekind met die blou oë sê sy het na 2020 uitgesien omdat dit die einde van haar laerskoolloopbaan sou wees.
“Ek het na sokkies, hokkie- en netbal-ligas uitgesien, om saam met my vriende te kuier en die gr. 7-kamp.
“Maar alles het verander. Van jy by die skoolhek opdaag tot jy weer daar uitstap, is alles ’n senutergende proses.
“Om elke hoek en draai word leerlinge ontsmet. Dan word jou koors geneem. Jy moet altyd jou masker dra. Die handreinigers maak jou hande rou.”
“Ek is baie dankbaar vir die wyse waarop ons skool hierdie pandemie hanteer, maar net toe ek weer veilig in die skoolgaanritme kom, het alles weer tot stilstand gekom.”
Sy vertel die krisistyd het tog sy hoogtepunte.
“Ek en my familie het nader aan mekaar gekom. Covid-19 het my die geleentheid gegee om my ouma en oupa, en my ma en pa beter te leer ken.”
Haar raad aan haar medeleerlinge is om die beste van onvoorspelbare jaar te maak.
“My ouma sê altyd: ‘Die lewe is te kort om oor klein dingetjies te stres’. ”