Iza Helmuth (links) en Leah Conradie, kuier by Sylvester by die Fully Rely on God-kerk se basaar in Douglas.

Foto: Verskaf

’n Aggressiewe ram van Douglas het soos handomkeer verander toe hy op ’n kerkbasaar “tot inkeer gekom” en meteens ’n liefdevolle houding aangeneem het.

“Die Heilige Gees moes Sylvester ingevaar het,” sê sy eienaar, Toelie van der Linde, grappenderwys nadat die omgekrapte dorper-ram aan die basaar geskenk is om opgeveil te word. Sy kon nie met hom huishou nie.

“Gewoonlik moes ek met ’n sambok by die kraal ingaan om hom te voer, want hy het te veel baklei.”

Sedert die vierjarige Sylvester op die basaar was, is hy egter so mak soos ’n lammetjie. Kinders het hom by die basaar gevryf en hy was doodrustig.

“Ek weet regtig nie wat Sylvester ewe skielik oorgekom het nie. Dit is seker omdat ons pastoor, Mark Southey, so goed preek!”

Sylvester was oorspronklik deel van ’n kompetisie by die kerkbasaar van die Fully Rely On God-kerk in Douglas­.

“Deelnemers kon betaal om tyd saam met Sylvester in die kraal deur te bring en die persoon wat die langste kon uithou sonder ’n stamp of ’n stoot, sou as die wenner gekroon word. Nodeloos om te sê het ons toe niks geld met Sylvester ingesamel nie.”

Sylvester is nie opgeveil nie en bring sy dae nou rustig deur.

“Hy het verander van die aggressiefste ram in die Noord-Kaap na ’n liefdevolle skaap wat graag met kinders speel,” vertel Van der Linde.

Liza-May Pieters

You need to be Logged In to leave a comment.