Ná twee jaar van strooijonker speel, het Griekwas uiteindelik Sondag (23/06) daarin geslaag om die SuperSportuitdaagreeks te wen.
Die Poubloues het die Pumas met 28 – 13 in Saldanhabaai geklop. Dit was die derde agtereenvolgende jaar dat Griekwas in die eindstryd gespeel het, maar Sondag was daar geen twyfel oor wie die wenspan gaan wees nie. Griekwas het die Laevelders, wat in 2018 die kampioen was, voorlangs aangevat en hulle veral in die skrums laat les opsê.
Hier het die Poubloues se loskopstut, Khwezi Mona, ’n reuse-rol gespeel. Boonop het hy ook met die bal in die hand ’n paar goeie lopies ingekry.
Met die Laevelders wat voorlangs gewurg is, het dit beteken dat hul gevaarlike agterlyn amper niks van die bal gesien het nie.
Die kere dat die bal wel agtertoe gegaan het, het die Poubloues hulle die meeste kere in hul spore gestuit danksy goeie verdediging.
Griekwas se eerste drie, deur die heelagter Anthony Volmink, het gekom toe hy ’n bres deur die Pumas se agterhoede geslaan het.
Maar die Laevelders was ook vir hul eie ondergang verantwoordelik.
Hulle het foute by die afbreekpunte gemaak, afgewissel met hanteerfoute. Boonop het hul losskakel, Chris Smith, sy skopskoene by die huis vergeet.
Die Poubloues se flanke, Sias Koen en Gideon van der Merwe, het in die losgemale die harde werk gedoen, iets wat die Pumas verder onder druk geplaas het.
) Puntemakers:
Griekwas 28 (16):
Drieë: Anthony Volmink, AJ le Roux, Eduan Keyter. Doelskoppe: George Whitehead (2). Strafdoele: Whitehead (3). Pumas 13 (8): Drieë: Devon Williams (2). Strafdoel: Chris Smith.