Departement ‘toon verbetering’

Die Noord-Kaapse departement van gesondheid betaal die regskoste van twee amptenare in twee afsonderlike strafregtelike verhore waarin hulle van bedrog en oortredings van die Wet op Openbare Finansies aangekla word.


Die Noord-Kaapse departement van gesondheid betaal die regskoste van twee amptenare in twee afsonderlike strafregtelike verhore waarin hulle van bedrog en oortredings van die Wet op Openbare Finansies aangekla word.

Dié erkenning kom nadat die DA aangevoer het die departement se gekwalifiseerde oudit-uitkomste het die afgelope vyf jaar geen verbetering getoon nie. Dit funksioneer so swak dat dit onder administrasie geplaas moet word, het Harold McGluwa, DA-leier, vroeër gesê.

Maruping Lekwene, LUR, het Donderdag (31/03) op ’n nuuskonferensie volgehou dat die departement sedert die laaste ouditverslag verbetering toon.

Riaan Strydom, waarnemende departementshoof, het erken dat die regskoste van twee amptenare wat steeds in diens van die departement is, deel is van hul skuld van R1,4 miljard wat aan regskoste en mediese eise bestee word.

Omdat interne tugprosesse teen die twee betrokke amptenare, dr. Dion Theys, waarnemende departementshoof, en Daniel Gaborone, finansiële hoof, nie afgehandel is nie, is hulle steeds in diens en moet belastingbetalers vir hul regskoste opdok.

Theys is in Maart 2021 daarvan aangekla dat hy as verantwoordelike amptenaar nie die wetlike voorskrifte ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur gevolg het toe huurkontrakte vir verblyf vir verpleegstudente van R96 miljoen aangegaan is nie. In Augustus 2021 is hy in ’n afsonderlike saak saam met Gaborone van bedrog en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aangekla oor persoonlike beskermende toerusting van R43 miljoen wat vir die Covid-19-pandemie aangekoop is.

Strydom kon nie bevestig wat die aangeklaagdes se regskoste beloop nie. “Hulle was vandeesweek weer in die hof, ons wag op die jongste rekeninge.”

Die departement betaal nie die regskoste van Steven Jonkers, voormalige departementshoof, nie. Hy word van bedrog van meer as R384 miljoen beskuldig met die toekenning van ’n veiligheidskontrak aan die maatskappy Defensor. Hy is nou die adjunk-direkteur-generaal van die Noord-Kaap.

Volgens Strydom het hulle ’n nuwe oudit-aksieplan opgestel.

“Ons moet 127 ingrypings by 35 projekte doen. Sommige van die omstrede kontrakte loop binnekort ten einde. Sodra die tesourie die groen lig gee, gaan ons nuwe tenders toeken. Ons heroorweeg ook die Defensor-veiligheidskontrak en die kontrak vir die verwydering van mediese afval. Die bodkomitees vir die toekenning van tenders is hersaamgestel.

“Ons webwerf word op datum gebring en sal aktief bestuur word. ’n Nuwe diensverskaffer is aangestel om die onvoltooide verpleegsterstehuis in Kimberley te voltooi, en ’n ander een om brandstof aan ambulanse te voorsien nadat brandstofkaarte deur die vorige verskaffers opgeskort is en ambulanse gestrand gelaat is.”

Volgens Lekwene het die departement se funksionering in die huidige boekjaar verbeter.

“Ons sal met elke toekomstige kontrak alle wetlike vereistes stiptelik volg. Geen onregmatige kontrak sal aangegaan word sodat ons nie foute herhaal nie. Ons het met interne tugprosesse teen betrokke amptenare begin. Senior bestuurders in die finansiële-, verkrygings- en menslike hulpbron-afdelings sal lewenstyl-oudits ondergaan.”
LUR Maruping Lekwene

Lekwene gaan in samewerking met die premier weer begin om ? permanente departementshoof aan te stel, ‘n proses wat voorheen wat deur die pandemie ontwrig is.

“Ons doen alles in ons vermoë om die departement reg te ruk, om dienste te lewer en lewens te red,” sê hy.

Volgens hom is die digitale pasientlêer-stelsel in wording, word meer diensverskaffers binne 30 betaal, is 1 000 personeellede in kritieke poste aangestel, het babasterftes afgeneem, en is drie nuwe lykshuise gebou.

You need to be Logged In to leave a comment.