Bafedile Lenkoe, departementshoof, en Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering, behuising en tradisionele sake.

Charné Kemp

Die nasionale departement van water en sanitasie sê hy is besig met stappe teen sekere Noord-Kaapse munisipaliteite weens wanfunksionele watersuiweringswerke en besoedeling van die Vaal-en Oranje-rivier.

Die provinsie het luidens die jongste Blou-, Groen en Geendruppel verslae teen 87%  die hoogste persentasie watersuiweringsaanlegte met swak of kritieke werkverrigting. Dit het sedert 2014 met 48% verswak. Boonop het die provinsie ook die hoogste tekort aan gekwalifiseerde personeel wat doeltreffende proseskontrole en infrastruktuuronderhoud moet bestuur.

Die Bloudruppelverslag handel oor die gehalte van drinkwater, die Groendruppelverslag oor watersuiweringsaanlegte en Geendruppelverslag oor hoeveelhede water (wat inkomste vir munisipaliteite moet genereer) wat verlore gaan weens lekplekke en swak bestuur.

Landwyd het drinkwatergehalte tussen 2014 en 2023 erg verswak, en  watersuiweringsaanlegte het agteruitgegaan.

Gawie van Dyk, departemente direkteur van regulering, nakoming en toepassing van wetgewing in die Noord-Kaap, sê die meerderheid van Noord-Kaapse munisipaliteite het reeds direktiewe van die departement ontvang.

“Die volgende stappe is om siviele of strafregtelike sake teen die betrokke munisipaliteite te volg. Ons oorweeg strafregtelike klagtes teen die Kai Gariep-munisipaliteit in Kakamas asook teen die Sol Plaatje munisipaliteit in Kimberley oor voortslepende besoedeling. In ander provinsies het die departement strafregtelike ook stappe teen munisipaliteite gedoen.

“Ons weet ook van ‘n aantal organisasies en gemeenskapsgroepe wat strafregtelike sake teen munisipaliteite ingedien het.”

Van Dyk sê die Vaalrivier is die “werkperd” van die land wat 60% van industrie en 40% van die bevolking onderhou. “Die groot kommer is rioolbesoedeling. Daarom het ons  ‘n program begin om die prestasie van watersuiweringsaanlegte te moniteer. Ongelukkig is daar steeds aanlegte wat bydra tot besoedeling wat in drinkwater beland. Nadat ons direktiewe uitgereik het, het ons redelike samewerking gekry om besoedeling te staak, maar dit neem tyd.

Ons is bekommerd oor die Dawid Kruiper-munisipaliteit se Kameelmond-aanleg in Upington, wat opgeknap word. Die Siyancuma-munisipaliteit in Prieska en die Thembelihle-munisipaliteit in Hopetown het verbeter. Die Renostersberg-munisipaliteit moet nog hul aanleg opknap

“Die  Lekwa-Teemane-munisipaliteit se aanleg in Bloemhof is ‘n probleem, maar sake in die aangrensende Christiana het verbeter. Die aanleg in die Magareng-munisipaliteit in Warrenton gaan opgeknap word. Die Dikgatlong-munisipaliteit in Barkly-Wes  se aanleg is gelukkig ver van die rivier, maar dit is wanfunksioneel.”

Bentley Vass, Noord-Kaapse LUR vir samewerkende regering, behuising en tradisionele sake, sê die munisipaliteite wat grootste waterinfrastruktuurprobleme het, is die Sol Plaatje-, die Magareng-, en die Kai !Garib- munisipaliteit in Kakamas.

Die Sol Plaatje-munisipaliteit het egter ‘n Begrotingsfasiliteit vir Infrastruktuur (BFI) ontvang om die grootmaatwater-infrastruktuur uitdagings op te los. Dit sal in drie fases in die volgende agt jaar in werking gestel word.

Intussen het die betrokke munisipaliteit na die onlangse watertekorte by die Riverton- watersuiweringswerke reeds van die filtermedia (sand) vervang, suiweraars skoongemaak om die slikoordrag na die filters te verminder, die watervlokkingsmiddel verander om die watergehalte te verbeter, pompe aangepas om meer water te pomp, en wanfunksionele meganiese en elektriese komponente vervang.

“Daarbenewens het die departement  ook bygedra tot die verbetering van die watersuiweringsaanleg deur sy plaaslike grootmaat-infrastruktuurtoekenning (RBIG).”

In Kai !Garib is daar “aansienlike verbeterings” in drinkwatergehalte.  “Die watersuiweringsaanleg is opgeknap deurdat die chemiese doseer- en filtrasiestelsels verbeter is.  Die sediment in opgaardamme en grootmaatpypleidings moet skoongemaak word om watertroebelheid te verbeter. Die mikrobiologiese toetsresultate toon ook verbeterings. Die oprigting van ‘n nuwe watersuiweringsaanleg om die bestaande een te stu, word oorweeg. Die Augrabies- en Vredesvallei-watersuiwerinsgaanlegte word verbeter.

Beurtkrag benadeel watervoorsiening in Pabalello, Louisvale Road, Kalksloot en  Klippunt in Upington, maar watertenks is uitgestuur om water te voorsien.

“Ek en die LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme hou gereeld  vergaderings met munisipaliteite Een die permanente onderwerpe is  die erns van watergehalte, en ons moniteer munisipaliteite en hou hulle verantwoordelik.

“Die kabinet vergader met lede van die Vaal- Oranjerivier-opvangsbestuursagentskap.  Alle waterbestuursowerhede word op plaaslike vlak betrek.”

Hy versoek inwoners om water te kook voordat hulle dit drink, kos afspoel of tande borsel. Water moet spaarsamig gebruik word en inwoners moet infrastruktuur help beskerm. Enige waterlekke en probleme moet spoedig aangemeld word. Munisipaliteite moet inwoners daagliks inlig oor probleme en drinkwatergehalte.

Bafedile Lenkoe, departementshoof sê die swak bestuur en lewering van swak drinkwatergehalte aan gemeenskappe is ’n ernstige vingerwysing na die regering. “Ons is aktief betrokke wanneer munisipale infrastruktuurprojekte geregistreer en befonds om toelaes te ontvang. Munisipaliteite se tariewe begroot nie vir onkostes om water te voorsien nie, en moet as ’n bron van inkomste bestuur word.”

Hy sê hulle gebruik ingenieurs van die Munisipale Infrastruktuurondersteunings- agentskap (Misa) om munisipaliteite by te staan omdat dit moeilik om ingenieurs na landelike munisipaliteite te lok en behou.

You need to be Logged In to leave a comment.