Met sy 600ste parkrun wat hy die afgelope naweek kafgedraf het, mik die 76-jarige Dieter Meyer na die 800-kerf, en indien moontlik, selfs die 1 000-kerf.
“Delta Dieter”, soos hy bekend is, was een van die 26 atlete wat in November 2011 die eerste parkrun in Suid-Afrika saam met Bruce Fordyce, uitvoerende hoof van parkrun in Suid-Afrika, by Delta Park voltooi het.
Sy 500ste parkrun het hy in Oktober 2022 saam met Fordyce by Delta Park voltooi.
Meyer het nie net die 3 000 km van die 600 parkruns onder sy voete voel verbyvlieg nie.
Hy het onder meer ’n blou nommer vir die Two Oceans- en ’n groen nommer vir die Comrades-ultramarathon. Die voltooiing van tientalle bergwedlope, die Midmar-myl wat hy nagenoeg 17 keer geswem het, asook fietsrenne – onder meer die Cape Town Cycle Tour wat hy 13 keer voltooi het – skets sy passie vir sport.
Die afgelope Saterdag, 12 Oktober, het talle atlete van die Kimberley Harriers Running Club, waar hy ’n lid is, aan die Kimberley-parkrun by Rooifontein deelgeneem om in Meyer se prestasie en vreugde te deel.
Sammy Louw, voorsitter, en Dave Janse van Vuuren, wat onder meer 30 Comrades-ultramarathons voltooi het, het saam met Meyer oor die eindstreep gehardloop.
’n Koek, spesiaal vir Meyer gebak, is ná die tyd met ander parkrunners gedeel.
Meyer het al op meer as 120 verskillende plekke aan parkrun-geleenthede deelgeneem. Die beste tyd wat hy behaal het, is 22:59.
Oor die voltooiing van sy 600ste parkrun in 35:15 het Meyer gesê dat hy “on top of the world” voel.
Hy het mense aangemoedig om uit die huis te kom en saam met hul kinders aktief te wees.
- Die Kimberley-parkrun vind elke Saterdag om 07:00 plaas.
- Besoek die Facebook-blad vir meer foto’s en inligting.


