Die aansoek van sommige beskuldigdes dat die regter homself moet verskoon in die saak waarin hulle van onder meer tenderbedrog vir ’n sekuriteitskontrak van R384 miljoen by die Noord-Kaapse departement van gesondheid aangekla word, is op Donderdag 31 Oktober uitgestel weens siekte en die onbeskikbaarheid van ’n advokaat.
Die staat het reeds sy saak gesluit in die verhoor van Steven Jonkers (55), eertydse departementshoof van gesondheid en deesdae adjunk-direkteur-generaal in die kantoor van die premier, Defensor Electronic Security Systems asook sy direkteure, Renier van Rooyen (62) en Claudius Gerald Peterson (57).
Die beskuldigdes het geen pleitverduideliking of erkennings ingedien nie.
Almal behalwe Jonkers het ’n aansoek gebring dat die regter homself van die verhoor verskoon.
Adv. Sean Abrahams wat namens hulle sou optree is nie meer beskikbaar nie.
Hulle sal nou deur adv. Jaap Cilliers SC verteenwoordig word.
Adv. Hannes Cloete sal namens die staat betoë voer.
Peterson wat glo ernstig siek is, was nie in die hof teenwoordig nie en moet ’n mediese sertifikaat indien.
‘Wanvoorstelling gemaak’
Die saak spruit uit ’n sekuriteitskontrak van R384 miljoen wat die departement van gesondheid in 2014 aan die Defensor-sekuriteitsmaatskappy toegeken het.
Die staat voer aan die beskuldigdes het tussen 13 Maart 2014 en 20 Oktober 2017 geheul en ’n wanvoorstel-ling in tenderdokumente gemaak om die departement te bedrieg.
Die departementshoof moes inderwaarheid nie die kontrak aan hulle toegeken het nie.
Van Rooyen en Peterson word daarvan verdink dat hulle nie die vereistes vir tender nagekom het toe die bod ingedien is nie.
Die maatskappy was nie by die Reguleringsowerheid vir die Privaatveiligheidsbedryf (Prisa) geregistreer nie.
Hulle het na bewering ook ’n vals belastingklaringsertifikaat ingedien.
Die twee het na bewering ook voorgegee dat hulle nie enige belange in verwante maatskappye het nie.
Jonkers het as rekenpligtige beampte na bewering die departement en personeel mislei dat hy tevrede was dat verkrygingsvereistes hiervoor nagekom is.
Dit behels dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ’n geldige belastingsklaringsertifikaat aan Defensor uitgereik het, dat die maatskappy drie jaar se geouditeerde finansiële state ingedien het en by Prisa geregistreer was.
Die vereistes van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur is na bewering op opsetlike, onwettige en roekelose wyse geïgnoreer, luidens die akte van beskuldiging.
As rekenpligtige beampte moet Jonkers ’n regverdige, deursigtige, mededingende en koste-effektiewe aankoopproses volg en onreëlmatige en vermorste uitgawes voorkom.
Jonkers het glo die oorspronklike bod van R224 miljoen goedgekeur asook ’n verdere aanpassing van R160 miljoen toe die kontrak onderteken is.
Adv. Isaac Mphela kla aan. Advv. Willem Edeling, SC, en Kristle Peterson tree namens al die beskuldigdes op.
Waarnemende regter Omphemetse Shwaro het die verhoor tot 12 Desember uitgestel.


