Op die vooraand van hul vonnisoplegging vir bedrog in die hooggeregshof in Kimberley het die twee direkteure van Defensor Electronic Security Systems op Maandag 17 November vir uitstel gevra omdat hul maatskappy onder sakeredding is en daar ‘n likwidasie-aansoek in die hooggeregshof in Bloemfontein is.
Renier van Rooyen en Claudius Peterson se aansoek is geweier en die twee direkteure is Dinsdag gevonnis, wat effektiewelik drie jaar gevangenisstraf vir hulle beteken.
Defensor Electronic Security Systems is ’n boete van R1,5 miljoen vir bedrog opgelê, betaalbaar teen 31 Maart 2026, asook ’n boete van R10 000 vir die oortreding van die Wet op die Regulering van die Private Sekuriteitsbedryf (PSIRA)-regulasies. Van Rooyen en Peterson het elk ses jaar tronkstraf gekry waarvan drie jaar opgeskort is vir vyf jaar, asook ’n boete van R10 000, in geheel opgeskort vir vyf jaar, vir oortredings van PSIRA-regulasies. Hul dadelike aansoek om verlof tot appèl is geweier.

Hul aansoek om hul borgtog ná vonnisoplegging te verleng het geslaag – hangende hul aansoek om verlof tot appèl na die Appèlhof in Bloemfontein.
Dr. Steven Jonkers, voormalige adjunk-direkteur-generaal en hoof van die departement van gesondheid in die Noord-Kaap, is reeds vrygespreek van aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA).
Dit het ook bekend geword dat Van Rooyen en Peterson se vorige prokureur homself onttrek het en hul maatskappy sonder regsverteenwoordiging gelaat is, al het albei ‘n nuwe prokureur aangestel.
Vonnis sal noukeurig deur NVG bestudeer word
In ’n verklaring van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder, die saak wat meer as twee jaar geduur het, is gekenmerk deur uitgebreide litigasie, insluitend mislukte aansoeke van die verdediging dat die regter homself moet verskoon en ’n aansoek om ontslag.
“Die verdediging het ook die toelaatbaarheid van twee kritieke stelle dokumente wat deur die Staat ingedien is, betwis: Dit is die tender se belastingklaringsertifikaat en PSIRA-sertifikaat, asook Defensor se bod-dokumente wat vir die sekuriteitstender ingedien is. Die verdediging het aangevoer dat die dokumente nie die oorspronklike weergawes is wat tydens die tenderproses ingedien is nie. Die hof het die dokumente nietemin toegelaat.
“Senior staatsadvokaat Isaac Mphela en adv. Jean Booysen het suksesvol bewys dat Defensor Electronic Security Systems en sy direkteure aansoek gedoen het vir ‘n sekuriteitstender ter waarde van meer as R384 miljoen, wetend hulle het nie aan die vereistes voldoen nie. Die maatskappy het nie ‘n geldige PSIRA-lisensie gehad nie, en het ook nie die nodige SARS-voldoeningsdokumente gehad nie. Desondanks is Defensor aanvanklik as die voorkeurbieder geïdentifiseer, hoewel dit nie aan die basiese geskiktheidskriteria vir die sekuriteitstender vir die Noord-Kaapse departement van gesondheid voldoen het nie.”
Volgens Senokoatsane is die saak op twee bene gegrond. “Die eerste been, nou afgehandel, het gefokus op openbare verkrygingsbedrog. Die tweede been wat aan die gang is, sal alle onwettige begunstigdes van die bedrieglike kontrakbetalings wat R384 043 106,75 beloop, teiken.”
Intussen sal die NVG die vonnis noukeurig bestudeer om te bepaal of verdere regstappe geregverdig is. Indien daar goeie regsgronde vir appèl of hersiening is, sal ‘n besluit daaroor geneem word.
“Die NVG glo die vonnisse stuur ’n ondubbelsinnige boodskap dat witboordjiemisdadigers wat die staat bedrieg, aanspreeklik gehou word. Die NPA is die ‘Mense se Prokureurs’. Ons word gedryf deur ‘n passie vir geregtigheid, aanspreeklikheid, en die beskerming van grondwetlike waardes. Ons is verbind tot die oppergesag van die reg, aanspreeklikheid, en etiese bestuur wat Suid-Afrika as korrupsie-weerstandige grondwetlike demokrasie handhaaf,” sê Senokoatsane.
Wederregtelik ander maatskappy se registrasienommer gebruik
Waarnemende regter Omphemetse Chwaro het as deel van sy uitspraak gesê die maatskappy is reeds skuldig bevind, en kan gevonnis word. Artikel 133(1) van die Suid-Afrikaanse Maatskappywet 71 van 2008 plaas ‘n algemene moratorium op regsgedinge en afdwingings-aksies teen ‘n maatskappy of sy eiendom tydens besigheidsreddingsprosedures, om ruimte vir herstrukturering te bied. Daar is ‘n statutêre uitsondering wat toelaat dat strafregtelike verrigtinge teen die maatskappy of sy direkteure/beamptes voortduur, het die regter gesê.
LEES OOK: ‘Twyfelagtige kontrakte’ van R384m: Aangeklaagdes roep sleutelgetuie terug
In die verhoor het die staat aangevoer die beskuldigdes het in die tydperk tussen 13 Maart 2014 en 20 Oktober 2017 geheul en wanvoorstellings in tenderdokumente gemaak om die Noord-Kaapse departement van gesondheid te bedrieg.
Regter Chwaro het bevind Van Rooyen en Peterson het wederregtelik hul ander maatskappy, Defensor Security, se registrasienommer van PSIRA as deel van hul boddokumente ingedien. Die betrokke entiteit wat die bod ingedien het, was dus nie geregistreer nie; dit is eers twee maande later gedoen. Hulle het op onregmatige wyse nie die departement van dié belangrike afwyking van die vereistes ingelig nie.
Daarmee het hulle ook artikels van die Wet op PSIRA oortree.
Die staat kon nie bewys dat Defensor ingevolge die bodprosesse wat gevolg is, uiteindelik nie gekwalifiseer het nie.
Regter Chwaro het ook met die skuldigbevinding ‘n bevel aan die Nasionale Beslagleggingseenheid toegestaan om ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad ‘n kommissie van ondersoek te hou oor hoe die veroordeeldes wederregtelik sou baat by die kontrak.
Adv. Isaac Mphela kla aan. Adv. Edeling SC word deur adv. Kristle Peterson namens al die beskuldigdes bygestaan.
LEES OOK: Drakenstein nou in regstryd oor krisis op Wellingtonse plaas



You must be logged in to post a comment.