DBV kry steun ná inbraak

Skenkers het verlede week ingespring om die DBV in Kimberley by te staan nadat dié organisasie twee weke gelede onder ’n inbraak deurgeloop het en onder meer kluise en rekenaar­toerusting kwyt is.


Skenkers het verlede week ingespring om die DBV in Kimberley by te staan nadat dié organisasie twee weke gelede onder ’n inbraak deurgeloop het en onder meer kluise en rekenaar­toerusting kwyt is.

Volgens Alet Steyn, DBV-voorsitter, het die inbrekers toegang verkry deur ’n dakplaat te sny en oop te buig en die plafon te breek. Die kluise is onder meer oopgesny. Benewens skootrekenaars en selfone, is drie dae se kontantinkomste gesteel en die kringtelevisiestelsel verwoes. Verskeie ander artikels is óf gesteel óf beskadig.

Die kantoor was hierna twee dae lank gesluit sodat personeel kon skoonmaak en gegewens in orde bring.

“Ons het al ons elektroniese data verloor en sal papierwerk moet gebruik om weer elektroniese gegewens op te bou. Die eerste dag ná die inbraak was ons kantoorblok onveilig. Terwyl ons gewag het dat die polisie die ondersoek voltooi, kon ons nie opruim of herstelwerk doen nie,” sê Steyn.

“Linja Allen van NC Security Solutions het vir ons twee nagwagte geborg om ons kantoor op te pas totdat polisie genoeg bewyse bymekaar kon maak. Kimberley Aluminium & Glass het die ruite gratis vervang.

“ ’n Anonieme sakeman van Kimberley het ’n selfoon en ’n skootrekenaar geskenk. Rudolf Louw van Joz the Key Man het ons beskadigde groot kluis gratis verwyder. Hy het ’n nuwe soortgelyke kluis geskenk en dit gratis ingesit. Gearbox & Diff Centre het die kluise gratis vervoer, en Louis Ferreira het ook ’n kluis geskenk. Hardcore Security het gratis ’n alarmstelsel in werking gestel en sal dit gratis moniteer. Ekapa-myn het twee opgeknapte rekenaars geskenk en gaan nog skenk.”

Steyn sê hulle benodig nog nuwe dakplate en plafonplanke, asook ’n houtdeur en heinings. Hond- en katkos is altyd welkom.

Die inbrekers het die DBV se kluis oopgesny en die inhoud gesteel.

You need to be Logged In to leave a comment.