Terwyl toeskouers, gepantser in warm baadjies, serpe en stewels, foto’s neem, durf tientalle swemmers die ysige water in die Sutherland-omgewing aan.

Foto: Skermgreep Facebook/Polar Bear/Ysbeer swem

Die afgelope naweek het ’n prentjiemooi sneeubedekking swemmers wat aan die jaarlikse Ysbeerswemuitdaging by Sutherland deelgeneem het, begroet.

Felix Burri, stigter en organiseerder van die Goldco Spares Ysbeerswemuitdaging wat vanjaar vir die 29ste keer aangebied is, sê 37 dagswemmers en vyf nagswemmers het die ysige water in die swemdam by die Rogge Cloof-private natuurreservaat aangedurf.

“Van die swemmers het die water bestorm waar ander dit suutjies benader het. Hulle is twee keer deur die dam, het vir ’n kort rukkie vir foto’s poseer en is toe soos blits uit. Maar daar was ’n paar wat terug is vir nog foto’s met die gelukbringer-ysbeertjie en hul medaljes,” sê hy.

Swemmers van Kathu, Kimberley, Barkly-Wes, Kuruman, Vryburg, Bloemfontein, Pretoria, George, Kaapstad en omliggende dorpe het vir dié uitdagendste swem in die Goldco Spares Ysbeerswemuitdaging opgedaag. Volgens Burri beplan almal van hulle om volgende jaar weer deel te neem, én om meer vriende en familie saam te bring.

Die jaarlikse baardveiling tydens die byeenkoms het R1 550 ingebring, en die ander veilings, skenkings en kosverkope se inkomste is voorlopig R15 000. Die geld word alles aan die Johenco-tehuis vir bejaardes in Sutherland geskenk.

Volgens Burri het die vroue van die Johenco-tehuis gebak en brou aan roosterkoek, sop en pannekoek om al die honger mae te vul.

Saterdag 20 Julie vind die eerste ysbeerswemuitdaging in die Wes-Kaap plaas wanneer swemmers om 12:00 by Victoriabaai die koue seewater sal aandurf.

Bel vir Burri by 082-851-4584 of vir Wilma van Mamaliousis by 076-070-0618 vir meer inligting oor die swemuitdaging in Victoriabaai.

Besoek ook Polar Bear/Ysbeer swem op Facebook.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article