Die hooggeregshof in Kimberley het die dorpsbestuurder van die Kgatolopele-munisipaliteit in Daniëlskuil in ’n bestraffende hofbevel beveel om die direkteur van tegniese infrastruktuur en gemeenskapsdienste weer in sy vorige pos aan te stel en twee maande se salaris ten volle terug te betaal.
Die dorpsbestuurder se besluit om die direkteur af te dank was ongrondwetlik, ongeldig en word tersyde gestel.
Regters Mpho Mamosebo en Almé Stanton se uitspraak van 26 Julie kom nadat Sekoane Sehole, die tegniese direkteur, ’n aansoek teen die munisipaliteit, Mosala Leutlwetse, speaker, Irene Williams, burgemeester en Willie Blundin, dorpsbestuurder, gebring het.
Sehole is op 22 Desember 2022 teen ’n jaarlikse salaris van byna R900 000 aangestel en sy vastetermynkontrak, wat tot Desember 2027 duur, is deur die raad goedgekeur.
Die LUR van samewerkende regering het egter dié midvlak-aanstelling bevraagteken, waarna die raad sy eie goedkeuring hersien en Blundin se salaris na R859 000 verlaag het en hy beveel is om die oorbetaling van vyf maande terug te betaal. Die raad, wat reg of verkeerdelik onder die wanpersepsie was die aanstelling was onwettig, het nie die hof genader om hul besluit te hersien nie.
Die departementshoof wou die pos, wat reeds gevul is, adverteer “om regstappe te vermy” waaraan die dorpsbestuurder gehoor gegee het. Die regters meen dis onbegryplik dat hulle nie kon dink dit sou nie tot verdere regstappe lei nie.
Sehole het in Mei 2023 ’n grief teen Blundin ingedien. Intussen is 40% in Julie en Augustus 2023 van sy salaris afgetrek.
Sehole het die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (CCMA) genader. Aanvanklik het Blundin daartoe ingestem en uitstel gevra, maar toe anders besluit en Sehole se aanstelling as ongeldig verklaar en sy dienste vanaf 1 September 2023 beëindig.
Die vraag wat die hof wou beantwoord was of Blundin die outoriteit gehad het om Seholo se dienste te beëindig.
Die regters het bevind Blundin was nie van voorneme om die proses by die kommissie te voltooi nie, want hy het reeds die bedankingsbrief opgestel. Dit is ’n onwettige uitoefening van openbare mag, wraaksugtig en in kwade trou.
Dis hoogs onreëlmatig vir die munisipaliteit om ’n voordeel aan te bied, dit terug te trek en Sehole nie ’n kans te gee om sy kant van die saak te stel nie.


