Sterk wind wat met ’n reënstorm gepaard gegaan het, het op Donderdagmiddag 12 Oktober ’n groot deel van die dak van Henco en Yolandé du Toit se huis afgewaai. Hulle is van die plaas Lemoenfontein, sowat 50 km van Boshof. Die wind het die motorhuis bykans platgewaai en hul karavaan op sy sy gekeer. Yolandé het aan Marita Herselman van Netwerk24 vertel dat die wind so gewaai het dat sy en haar dogtertjie, wat in ’n kamer geskuil het, nie eens gehoor het dat die dak van ’n deel van die huis afwaai nie. Eers toe sy later ’n deur na die kombuis oopmaak, het sy besef daar is nie meer ’n plafon nie – en ook nie ’n dak nie. Stukke van die dak is 800 m verder gekry. Op dié dag het dele van Kimberley reën gekry, terwyl haelskade ook in die omgewing aangemeld is.

Foto: Verskaf