Die Mokala- Nasionale Park, skaars 80 km suidwes vanaf Kimberley en bereikbaar vanaf die N12, is ideaal vir ’n dagbesoek wat Kimberliete en inwoners van die omgewing met hul gesinne kan geniet.
Mokala is die Tswana-woord vir “kameeldoring” en dié park is in 2007 geproklameer wat dit een van die nuutste van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) maak.
Die meeste grondpaaie in dié park is met ’n gewone voertuig begaanbaar, en ’n viertrekvoertuig is slegs nodig indien die 4×4-roetes gery gaan word.

Mokala, wat ongeveer 34 000 ha beslaan, se landskap wissel tussen koppieveld, grasvlaktes met dolerietheuwels, asook landskappe met rooi sand, getooi met onder meer massiewe kameeldoring- en witgatbome.
Die noordgrens van Mokala word deur die Rietrivier gevorm, en die park is in die oorgangsone tussen die Karoo- en Kalahari-bioom geleë. Die grasvlaktes, en die plantegroei in die heuwelagtige- en riviergebied lok ’n groot verskeidenheid voëlspesies.
Vlaktewild geniet die weiding op grasvlaktes, en ander soorte wild die weiding in die beboste- of heuwelagtige gebied.
Mokala is die tuiste van onder meer buffels, tsessebe, bastergemsbokke, swartwitpense, bergrietbokke, kameelperde, gemsbokke, elande, sebras, rooihartbeeste, blou- en swartwildebeeste, koedoes, volstruise, steenbokke, duikers en springbokke. Wildsoorte soos jakkalse, meerkatte en vlakvarke word ook aangetref.

‘Elke keer die moeite werd’
’n Inwoner van Kimberley wat Mokala gereeld saam met familie en vriende besoek, vertel die verskeidenheid wild maak ’n uitstappie altyd die moeite werd.
Leon Venter sê die hoeveelheid wild wat hier voorkom, is besonders.
“Moet nie die verskeidenheid voëls wat ook hier voorkom uit die oog verloor nie. Van die mooiste foto’s van voëls het ek in Mokala en by die Stofdam-voëlskuiling geneem.
“Mokala is net om die draai om jou siel weer ‘kos’ te gee. Om by die braai- en pieniekareas te ontspan, bring soveel rustigheid.
“Die geriewe word netjies gehou en die personeel van die park gaan uit hul pad om jou met ’n lied in die hart te ontvang en om die park in stand te hou,” sê hy.
Die kans om ’n verskeidenheid wild en voëls tydens ’n dagbesoek te sien, en om die Kalahari se tipiese rooi sand en kameeldoringbome naby aan Kimberley te ervaar, is van die pluspunte om Mokala te besoek, sê Johan de Klerk, die parkhoof.
Wat om in Mokala te doen
- Geniet wildbesigting vanuit jou eie voertuig. Besoekers ontvang ’n kaart met die park se paaie, besienswaardighede, piekniekplekke, en meer, by die toegangshek. Dié kaart bevat foto’s van die wildsoorte wat voorkom, en dit kan in ’n speletjie ontaard om te sien wie eerste dié wildsoorte opmerk.
- Maak ’n lys van die verskillende voëls wat jy raaksien.
- Hou piekniek, of ’n vleisbraai, by die Matopi- of Kameeldoring-piekniekgebied. Ablusie- en braaigeriewe, met bankies en tafels, is hier beskikbaar.
- Doen kunsvlieghengel op die vang-en-vrylaat-beginsel. Dié hengel vind in die omgewing van die Lilydale-ruskamp, teen die Rietrivier, plaas. Die hengelpunte by De Krans en Kleinbek is slegs met 4×4- of hoër voertuie bereikbaar.
- Besoek die interpretasiesentrum naby Mosu Lodge. Dié sentrum beeld die geskiedenis van Mokala en sy omgewing uit, en rotsgravures en artefakte van vroeëre inwoners is te sien. Besoekers kry inligting oor die ryk kulturele erfenis van die area en biodiversiteit van die park.
- Dag- en oornagbesoekers kan ’n begeleide toer met ’n toergids en ’n veldvoertuig bespreek.
- Bespreek vir die bergfietsroete.
- Hou voëls en wild vanaf uitkykpunte by watergate dop. By die Stofdam-voëlskuiling is besoekers verskuil, en kan ure verwyl word.
Raak ook so betrokke
- Sluit as ’n vrywilliger by die SANParke-ereveldwagters in die Diamantveldstreek aan. (Skryf aan Hestia Swanepoel by hestia.swanepoel@gmail.com).
- Skryf in vir die Mokala MTB Classic wat jaarliks in Junie deur dié ereveldwagters aangebied word.
- Woon die jaarlikse Mokala-boskonsert in April, aangebied deur die SANParke-ereveldwagters by. (Skryf aan Ina Leamy by ina@sanparksvolunteers.org).
Bly langer as ’n dag
- Verblyf in chalets is by een van drie ruskampe, Haak-en-steek, Mosu en Lilydale, beskikbaar. ’n Swembad is by Mosu en Lilydale vir oornagbesoekers beskikbaar.
- Kamp met eie toerusting in die Motswedi-kampeerterrein, oornag in die Stofdam-voëlskuiling, of oornag in die Dinokeng- of Motswedi-luukse boomhuis.
Algemene reëls vir besoekers
- Vergewis jou van die hektye en beplan daarvolgens.
- Neem jou ID-kaart vir identifikasie saam.
- Besoekers mag slegs by ruskampe en piekniekgebiede uit hul voertuie klim.
- Moenie op paaie ry wat ’n geen-toegang bordjie vertoon.
- Gehoorsaam die spoedbeperking.
- Die gebruik van alkohol is verbode.
- Die voer van enige wild is verbode, asook die pluk van plante.
- Geen troeteldiere word toegelaat nie.
- Die gebruik van hommeltuie word verbied.
Werd om te weet
Een van twee toegangshekke kan gebruik word: Die Mokala-hoofhek (bereikbaar vanaf die N12 by die Hayfield/Heuningneskloof-kruising.) Ry 21 km aan op dié grondpad tot by die hek, waar ’n toegangsvorm ingevul word. Betaal toegangsgeld en ontvang permitte 6 km verderaan, binne die park by Mosu. Die afstand vanaf Kimberley na dié hek is 74 km, en vanaf Hopetown 92 km.
Die Lilydale-hek is bereikbaar vanaf die Lilydale-afdraaibord by Modderrivier en Ritchie. Ry 16 km op dié grondpad aan tot by hek. Besoekers wat hierdie hek gebruik, betaal toegangsgeld en ontvang permitte 6 km verderaan, binne die park by Lilydale. Dié hek is 59 km vanaf Kimberley, en 107 km vanaf Hopetown.
- Geen kitsbank-, vulstasie- of restaurantgeriewe is in Mokala beskikbaar nie.
- Basiese noodsaaklikhede kan by die winkeltjies by Lilydale en Mosu gekoop word.
- Toegangsgeld vir Suid-Afrikaners, vanaf 1 November 2024 tot 31 Oktober 2025, is R60 per volwassene (persone 12 jaar en ouer), en R30 vir kinders (twee tot 11 jaar). Ander tariewe geld vir burgers van die buurlande, en vir inwoners van ander vastelande.
- Somermaande kan dagbesoeke vanaf 07:00 tot 19:00 plaasvind. Dit word aanbeveel dat dagbesoekers voor 16:00 die park binnegaan om genoegsame tyd toe te laat om die wildroetes te geniet.
- Besoek sanparks.org/parks/mokala vir meer inligting, of skakel 053-204-8000/8017/8300 of 073-475-6553.