Jillian Cronjé, hoof van die Kutlwano Daycare Centre in Kimberley.

Foto: Charné Kemp

Die Kutlwano Daycare Centre in Diamantpark in Kimberley is ’n suksesstorie van gesamentlike toewyding, volharding en ’n strewe om kinders in behoeftige gemeenskappe ’n beter toekoms te gee.

So sê Jillian Cronjé, hoof van dié dagsorgsentrum wat in November twee jaar oud sal wees. Dié instelling is by die departement van onderwys geregistreer om ’n leerplan vir vroeëkinderontwikkeling aan die 107 leerlinge te bied. Cronjé het jare gelede die behoefte in haar gemeenskap herken.

“Die Here het my as enkelouer gehelp om my drie kinders mooi groot te maak. Ek wou uit dankbaarheid ook ’n bydrae in my gemeenskap lewer. Eendag het ek gesien hoe jong ma’s by tavernes rondhang. Ek het besluit om die kinders te versorg en op te voed terwyl die ma’s kan werk en geldelik onafhanklik van ander mense word. Een skoolmeisie wie se ma nie na haar baba wou kyk nie, bedank my nou nog. Ek het haar kind help grootmaak terwyl sy skool klaargemaak en werk gekry het. Sy het nou die dag bevordering gekry.”

Cronjé het ’n kleuterskool in haar huis geskep en met die skoolgeld wat sy geïn het, ’n aangrensende sinkvertrek gebou en gedurig vergroot. Die geriewe was nie ideaal nie.

“Ek het aan deure geklop vir geldelike hulp om ’n skool te bou. Dit was harde werk, want ná skool moes ek met die taxi dorp toe gaan om moontlike skenkers te spreek.”
Jillian Cronjé

Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), Cipla Foundation, De Beers, Through Music Foundation en Rand Mutual Assurance het saamgewerk om die gebou op te rig op grond wat die Sol Plaatje-munisipaliteit geskenk het. Die nasionale en provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling was ook betrokke.

Cronjé vertel dat die skenkers aangedring het dat die kleuterskool in Diamantpark gebou word omdat hulle haar ken en vertrou. Die klaskamers is ingevolge vereiste standaarde volledig toegerus. Daar is badkamers en ’n kombuis waar kos daagliks voorberei word met behulp van die departement van onderwys.

“Dit is wonderlik om te sien hoe die kinders gestimuleer word en emosioneel en intellektueel ontwikkel. Hulle help ook graag in die tuin waar hulle blomme en groente plant.”

Jillian Cronjé, hoof van die Kutlwano Daycare Centre in Kimberley.

Sy glo opgeleide burgers wat geleenthede benut, stimuleer die ekonomie en skep meer geleenthede vir ander. Misdadigheid en ander maatskaplike probleme neem af as kinders reg opgevoed word.

Drie van haar oud-leerlinge het pas hul kwalifikasie in vroeëkinderontwikkeling by die Sol Plaatje-universiteit (SPU) voltooi, en nog drie is besig om in dié rigting te studeer.

You need to be Logged In to leave a comment.