Die lekkende water en gepaardgaande moeras op die plaveisel by die ablusieblok by die Noord-Kaapse wetgewer het Angus McKenzie, ’n DA-subraadvoorsitter van die Stad Kaapstad, geskok. “ ’n Mens kan nie glo Kaapstad en Kimberley, met dieselfde infrastruktuur, is in een land nie. Dis betreurenswaardig dat Noord-Kapenaars in sulke omstandighede moet woon. Die Noord-Kaapse ANC versaak sy oorsigrol. Belastingbetalers se geld word nie op onderhoud en infrastruktuur bestee nie, maar gesteel en wanbestuur. In Kaapstad sal ons binne 48 uur ná aanmelding die probleem oplos. Die maande-oue slaggate, wanfunksionele straatligte, oop mangate en oorgroeide sypaadjies in Kimberley is skreiend. Dit stel motoriste en voetgangers se lewe in gevaar,” sê hy.

Foto: Charné Kemp

Enkele meters van ’n moerasland waar inseklewe en alge op lopende water gedy wat skynbaar ’n geruime tyd op plaveisel by ’n openbare ablusieblok van die Noord-Kaapse wetgewer stroom, het die DA by die bekendstelling van sy verkiesingsmanifes beloof hulle gaan dié soort wanbestuur regstel voordat Suid-Afrika in “nog ’n Zimbabwe” ontaard.

Dit was die boodskap van dr. Ivan Meyer, federale voorsitter van die DA, wat Saterdag 9 Maart die party se manifes aan meer as 1 200 teenwoordiges by die wetgewer in Kimberley bekendgestel het.

Die party moes mobiele toilette huur vanweë die wetgewer se wanfunksionele openbare toilette wat ontoeganklik was.

Die lekkende water en gepaardgaande moeras op die plaveisel by die ablusieblok by die Noord-Kaapse wetgewer het Angus McKenzie, ’n DA-subraadvoorsitter van die Stad Kaapstad, geskok. “ ’n Mens kan nie glo Kaapstad en Kimberley, met dieselfde infrastruktuur, is in een land nie. Dis betreurenswaardig dat Noord-Kapenaars in sulke omstandighede moet woon. Die Noord-Kaapse ANC versaak sy oorsigrol. Belastingbetalers se geld word nie op onderhoud en infrastruktuur bestee nie, maar gesteel en wanbestuur. In Kaapstad sal ons binne 48 uur ná aanmelding die probleem oplos. Die maande-oue slaggate, wanfunksionele straatligte, oop mangate en oorgroeide sypaadjies in Kimberley is skreiend. Dit stel motoriste en voetgangers se lewe in gevaar,” sê hy.

Partylede sê die ANC en die wetgewerlede wat daagliks verby die waterlekke beweeg en nie hul oorsigpligte nakom en toesien dat probleme in ’n waterarm stad dadelik herstel word nie, moet uitgeskop word. Volgens een partylid sou só ’n lekplek binne 48 uur in Kaapstad, waar die DA regeer, herstel word.

Meyer blameer “endemiese korrupsie, onbevoegde amptenare en kaderontplooiing” vir Suid-Afrika se probleme en sê burgers kan nie toelaat dat die ANC nog vyf jaar regeer nie.

“Armoede het ná 1994 tienvoudig vermeerder, ondanks die ANC se vele beloftes. Die onderwys- en gesondheidstelsel, behuising, paaie en infrastruktuur is in die intensiewe sorgeenheid. Mense het hoop verloor. Die maer jare kan met vet jare vervang word indien mense die DA en sy veelpartyhandves-vennote instem. Ons sal die ekonomie, infrastruktuur, en so meer herstel.”
Dr. Ivan Meyer

“Mense het daagliks water, krag, sanitasie en vullisverwydering nodig, wat duidelik nie in die Noord-Kaap beskikbaar is nie. Ons moet die mense se waardigheid herstel.”

Hy sê hulle het die Noord-Kaap as een van vyf katalisatorprovinsies identifiseer om die land se ekonomie te stu en werk te skep.

Dr. Ivan Meyer, DA federale voorsitter.

Volgens hom het heelwat mense die ANC emosioneel verlaat en is hulle bereid om vir beter partye te stem.

“Elke kieser dra ’n geweldige verantwoordelikheid. Heelwat van die 27 miljoen kiesers wat geregistreer is, is jong mense. Dit is bemoedigend, want hulle moet ’n toekoms sien.”

Volgens hom is die ANC arrogant.

“Terwyl die mense krepeer en vir brood smeek, eet die vet katte koek by hul verjaarsdagpartytjies sonder ’n sweempie skaamte.”
Dr. Ivan Meyer

“Ons sal met nederigheid die mense dien. As ’n nuwe regering sal ons alle amptenare en die kabinet aan lewenstyloudits onderwerp. Ondersoeke waarin amptenare van bedrog aangekla of deur die Zondo-kommissie of die Spesiale Ondersoekeenheid impliseer word, sal binne ses maande voltooi word.”

Hulle sal munisipaliteite regruk, infrastruktuur herstel, en betroubare water- en kragvoorsiening verskaf om beleggers na die land te lok en die ekonomie te stu. Dit sal sake- en verbruikersvertroue versterk.

“Ons sal soos Dawid die arrogante Goliat met die klippe van vertroue, gehoorsaamheid en eerbied verslaan, net soos ons dit in 2009 in die Wes-Kaap gedoen en die ANC oorwin het.”

Volgens dr. Izak Fritz, Noord-Kaapse premierskandidaat, word die party sedert hul veldtog in Augustus begin het, deur sakelui boere, plaaswerkers en gemeenskappe tot so ver as Kuruman, Kathu en in die Joe Morolong-distrik verwelkom. Dit is teenaan die Noordwes-provinsie waar daar tradisioneel sterk ANC en EFF-ondersteuning is.

Dr. Isak Fritz, die DA se Noord-Kaapse premierskandidaat.

Hy sê die ANC is “soos ’n kat op ’n warm plaat”. Hulle stuur staatsdepartemente na gemeenskappe om staatsveldtogte te loods. Die premier is benoud, want hy meld telkens in sy provinsiale rede dat die regerende party weer aan bewind sal wees.

“Mense is nie meer bang of voel bedreig om T-hemde van die DA aan te trek nie, wat hul grondwetlike reg is. Mense weet huise en maatskaplike toelaes kom van die regering en nie politieke partye nie.”

Harold McGluwa, provinsiale voorsitter, sê kiesers het die keuse en moet sorg dat die ANC nie weer na die wetgewer terugkeer as die regerende party nie.

Willie Aucamp, kiesafdelingshoof, sê hulle het verstommende hoeveelhede kiesersregistrasies van jong mense in die Kuruman, Kathu en Joe Morolong-distrik gesien. Mense wat uitgesluit van die demokratiese stelsel gevoel het, is nou opgewonde om te stem, sê hy. Kiesers besef hulle kan verandering bring.

“Ons het in 2023 vir twee maande lank die Gamagara-munisipaliteit in Kathu regeer. In daardie tydperk het Henriëtte du Plessis, ons burgemeester, die ampsmotor ingeruil vir twee bakkies om elektriese werk en sanitasiedienste te lewer. Onder haar goeie werk kon die mense ook in aangrensende munisipaliteite die verbetering sien.”
Willie Aucamp

“Olifantshoek se opgaardam was byvoorbeeld weer vir die eerste keer in ses jaar vol water met geen daelange watertoevoeronderbrekings nie. Ons kon in twee maande doen wat die ANC nie in 30 jaar kon doen nie.

“Kort nadat die ANC weer die meerderheidstem met ’n geslaagde mosie van wantroue in die raad oorgeneem het, het hulle splinternuwe ampsmotors bestel en die bakkies laat gaan. Dit was ’n duidelike voorbeeld van waarin die ANC eintlik belangstel, en die mense het dit raakgesien. Al ons goeie werk het weer onder die ANC se regering platgeval.

Harold McGluwa, Noord-Kaapse DA-voorsitter, spreek die skare toe.

You need to be Logged In to leave a comment.