person dropping paper on box
Ter illustrasie. Foto: Element5 Digital / pexels.com

Kort ná die erg betwiste tussenverkiesing in wyk 4 in Douglas in die Siyancuma-munispaliteit in die Noord-Kaap, gaan nog ‘n tussenverkiesing vanjaar in wyk 5 in die dorp plaasvind nadat die ANC-raadslid, Deon Ellison, na die PA oorgeloop het.

Intussen kraai die DA weer koning nadat hy die wyk in 2021 afgestaan het. Dit het gekom nadat twee onafhanklike kandidate dié en ‘n ander wyk verower het en die ANC sy meerderheid afgestaan het.

Die munisipaliteit is toe deur ‘n koalisie van die DA, VF Plus, EFF, en die twee onafhanklike kandidate waaronder Wim van Bergen, regeer. Van Bergen se dood het die tussenverkiesing aangebring. Hy is destyds as burgemeester gekies, maar later uit die kussings gelig toe die EFF en ANC ‘n koalisie gevorm het.

Die DA het in die jongste tussenverkiesing op 3 September sy stempersentasie van 34% in die 2021-munisipale verkiesing na 56% gelig, met die ANC 32% en die PA 6%.

In ‘n verklaring sê die DA dat Lemfvia van Niekerk, hul nuwe DA-raadslid, voorheen as proporsionele raadslid baie goeie werk verrig het.

Lemfvia van Niekerk saam met Harold McGluwa, (links, provinsiale leier) en Isak Fritz (DA-LPW). Foto: Facebook

“Die oorwinning toon nie net burgers se waardering vir die DA se uitstekende rekord wat as deel van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) regeer nie, maar toewyding tot diens, sorg en verantwoordbaarheid op provinsiale en plaaslike vlak, waar ons ook die opposisie is.

“Lemfvia het in die dorp geveg vir straatligte, toilette, beter paaie, gereguleerde stortingsterreine en toegang tot skoon water. Sy het reageer op die gemeenskap se behoeftes, hetsy in tye van brande of selfs hongersnood. Sy het nie teruggedeins om betrokke te raak nie.”

Die DA sal “voortgaan om swak dienslewering deur die ANC in wyk 4 aan te pak en met belanghebbendes saam te werk om die voortdurende uitdagings wat die groter Douglas-gemeenskap ervaar, op te los.

“Kiesers het geweier dat hul stemme gekoop word wanneer ander partye staatmasjinerie vir tussenverkiesings misbruik. Dis gerusstellend dat kiesers se waardes gegrond is in beginsels.”

Die provinsiale regering het sy Vrouedag-viering op 9 Augustus in Douglas gehou waar die premier, dr. Zamani Saul, die hoofspreker was. Hy het R5 000 aan ses vroue oorhandig om hul besighede te ondersteun. Hy het ook R100 000 aan Andrew van Wyk, ‘n leerling aan die Hoërskool Bongani oorhandig wie ‘n silwer medalje in Die Afrika-landloopkompetisie in Namibie gewen het. Op 31 Augustus het die waarnemende premier, Bentley Vass, die Bride in Christ Prophetic Ministries-kerk in Douglas toegespreek.

Intussen het Gayton McKenzie gesê dat hy Ellison oorreed het om van die ANC na die PA oor te loop. Dié tussenverkiesing sal voor die einde van die jaar gehou word.

You need to be Logged In to leave a comment.