Herbert Bassil Japhta (regs), saam met die DA se provinsiale leier, Andrew Louw

Christiaan Cloete

Die DA het die setel wat hy tydens die 2016 munisipale verkiesing in Kimberley se Sol Plaatje-munisipaliteit gewen het behou nadat die party se kandidaat vir Wyk 28 (Colville, Greenside, K&B en polisiewoonstelle-omgewing), Herbert Bassil Japhta, Woensdag (10/04) die tussenverkiesing in dié wyk gewen het.

Anders as die 2016-verkiesing toe die DA met 60.09% van die stemme gewen het, het die DA hierdie keer 54.97% van die stemme behaal.

Die tussenverkiesing is gehou nadat Shaine Griqua in Januarie as DA-raadslid bedank het.

Griqua het intussen as ‘n proporsionele raadslid by die ANC aangesluit.

Sebrina Engelbrecht het as wykskandidaat vir die ANC in die tussenverkiesing teen die DA se Japhta gestaan.

Die DA se provinsiale leier in die Noordkaap, Andrew Louw,
het in reaksie op die oorwinning gesê die party is ingenome met die oorwinning
en glo dat dit ’n voorsmakie is van die grooter oorwinning vir die DA in die
Noord-Kaap op 8 Mei (tydens die nasionale verkiesing) wag.

“Hoewel minder mense in die tussenverkiesing gestem het
(49.85 %) het ons steeds ’n oorwinning behaal. Dit terwyl die ANC mense met
R100 note probeer omkoop het om vir hulle te stem,” het Louw in ’n verklaring beweer.

Japhta is reeds die afgelope 52 jaar ‘n inwoner van
Colville. Hy het by die Sol Plaatje-munisipaliteit as ‘n elektriese vakleerling,
‘n markbestuurder en later ‘n oordbestuurder gewerk voor hy afgetree het.

Hy het ook ’n NQF 6-kwalifikasie in publieke bestuur aan
die Universiteit van die Vrystaat behaal.

You need to be Logged In to leave a comment.