Die DA in die Noord-Kaap het ’n dringende beroep op die LUR
vir samewerkende regering, Bentley Vass, gedoen om dringend in te tree in
Kimberley se nuutste waterkrisis.
Die Sol Plaatje-munisipaliteit het laat Donderdagmiddag
(17/01) ’n herrie veroorsaak toe hy in ’n verklaring te kenne gegee het dat
waterbesparingsmaatreëls vanaf die naweek ingestel sal word.
Volgens Sello Matsie, ’n woordvoerder vir die Sol
Plaatje-munisipaliteit, beteken dat die watertoevoer sal nou selfs vroeër in
die aande gestop sal word – vanaf 18:00 in die aande tot 04:00 in die oggende
en dat Kimberliete nou selfs op Saterdae vanaf 12:00 tot Sondagmiddae 12:00
sonder water sal moet klaarkom.
Volgens Matsie sal dié maatreëls in plek wees “tot die
situasie genormaliseer het en vlakke by die opgaardam op ongeveer 15 voet
gestabiliseer het”.
Die aankondiging het ’n hewige reaksie onder lede van die
publiek ontlont en die vinger is na die munisipaliteit gewys oor sy traagheid
om lekkasies in die Diamantstad te herstel terwyl die blaam vir waterverplasing
telkens voor die deur van inwoners wat hul tuine natmaak gelê word.
Die DA se provinsiale leier in die Noord-Kaap, Andrew Louw,
het in ’n verklaring gesê die waterkrisis is ’n mensgemaakte krisis en dat die
munisipaliteit daarvoor verantwoordelik gehou moet word.
“Die waterbesparingsmaatreëls sal ongetwyfeld ’n enorme
impak op sakeondernemings en gewone inwoners van Kimberley hê.
“Die waterdebakel in Kimberley is oor die afgelope tien jaar
swak deur die Sol Plaatje-munisipaliteit bestuur. Die munisipaliteit het min
gedoen om watervermorsing te voorkom en op enige gegewe dag sal jy ’n gebarste
pyp iewers in Kimberley sien.
“Die munisipaliteit het ook nagelaat om die nodige
toekomsbeplanning, instandhouding en infrastruktruurverbetering te doen om te
verseker dat daar water vir al Kimberley se inwoners is,” het Louw in die
verklaring gesê.
Volgens Louw voorspel die Sol Plaatje-munisipaliteit se
skreiende onbevoegdheid, tesame met die warm en droë weerstoestande ’n donker
toekoms vir Kimberley se inwoners indien remediërende aksie nie spoedig geneem
word nie.
Hy sê die DA het ’n brief aan Vass gerig waarin die DA ’n
dringende ondersoek vra na die Sol Plaatje-munisipaliteit se hantering van die
waterkwessie deur ’n onafhanklike ondersoeker.
“Ons wil presies weet hoe geld wat vir die opgradering van
Kimberley se waterinfrastruktuur beskikbaar gestel is oor die afgelope dekade
bestee is.
“Ons versoek ook dat Vass aanbevelings maak oor ’n
gekwalifiseerde ingenieur wat bevoeg is om die huidige waterkrisis in Kimberley
op te los aangesien die plaaslike munisipaliteit skynbaar nie bevoeg is om die
probleem op te los nie,” sê Louw.
Hy het ook versoek dat die bevindings van die ondersoek aan
inwoners van Kimberley bekend gemaak word tydens ’n ope vergadering.