Die DA in die Noord-Kaap sê hy verwelkom die inhegtenisname van ’n 46-jarige ANC-raadslid van Lerato Park in Kimberley wat glo ’n minderjarige met ’n geestesongesteldheid verkrag het en haar vriend glo ook probeer verkrag het terwyl hy hulle glo in sy huis gevangene gehou het.
Kapt. Sergio Kock, ‘n woordvoerder vir die polisie in Kimberley, het die voorval bevestig.
Volgens die polisie sou die man na bewering die meisies op Vrydag 8 November na ‘n veteraan se huis geneem het. Hy het hulle glo daar toegsluit tot Sondagaand om 17:00.
Die man is Dinsdag (12/02) in hegtenis geneem en sal blykbaar Donderdag (14/02) in die Kimberley-landdroshof verskyn.
Die DA se provinsiale leier in die Noord-Kaap, Andrew Louw, het in ’n verklaring gesê dit is verwerpenswaardig dat ‘n man wat deur inwoners van die gemeenskap as ’n leier verkies is van “sulke vuil en kriminele dade” beskuldig word teenoor weerlose lede van die gemeenskap wat hy veronderstel was om te beskerm.
“Die DA veroordeel enige vorm van geweld teen vroue en kinders sterk en ons doen ‘n beroep op die ANC om die raadslid dadelik van enige magsposisie te verwyder totdat die saak in ‘n hof afgehandel is,” het Louw in die verklaring gesê.
“Aangesien die veiligheid van kinders op die spel is, moet die raadslid voorlopig beskou word as ‘n bedreiging vir jong meisies en hy moet nie vertrou word om sy gemeenskap te lei nie.
“Die DA glo vas dat daar geen plek is nie, behalwe die tronk, vir verkragters,” sê Louw.