Verkiesingsplakkate aan ‘n lamppaal in Kimberley ding mee vir aandag.

Foto: Helena Barnard

Die DA in die Noord-Kaap betwyfel die bevindinge van ’n onlangse kieserspeiling waarin bevind is hy sal ná die verkiesing die derde grootste party in die provinsie wees.

Die party verwys na die kieserspeiling se “hoogs twyfelagtige bevindings” wat aanlyn en in hoofstroom­media die ronde doen en “belaglik lae” stempersentasies vir die DA in die provinsie voorspel.

Dit kom nadat Ivan Steenkamp, ’n konsultant van Evers Excellence, in sy doktorale navorsing bevind het die ANC gaan goed vaar in die komende provinsiale verkiesing in die Noord-Kaap, met die EFF wat die grootste opposisieparty sal wees en die DA kort op sy hakke.

Hy voorspel dat die ANC 62,7% in die provinsiale verkiesing sal behaal. Die oogmerke was om kiesers se indrukke oor die ANC en kwessies in die Noord-Kaap en die land te bepaal.

Harold McGluwa, DA-LW en Noord-Kaapse leier, sê die DA in die Noord-Kaap is op ’n opwaartse trajek.

“Ons grond ons siening op interne peilings, berekeninge wat verband hou met die aantal kiesers wat ons tydens ons veldtog gekontak het en kiesersentiment wat op die grond ervaar is.”

McGluwa sê die party het nie swak in die vorige verkiesing gevaar soos Steenkamp meen nie.

“Ons het 25% by die stembus in die 2019-provinsiale verkiesing behaal. Voorspellings dat ons van ’n vermeende 8,46% in 2019 na 6,49% in 2024 sal daal, is onwaar.”

Hy meen daar is “baie geraas oor ewekansige opnames en meningspeilings in die twyfelagtige studie”.

“Ons betwis die ongegronde bewerings en veroordeel die valshede wat kiesers mislei. Dit is ’n georkestreerde poging om die DA te diskrediteer en wys dat ons opposisie bedreig word.”

Hy sê die DA bly die grootste opposisieparty in die Noord-Kaap.

“Ons streef om óf ’n nuwe meerderheid te verkry, óf om ’n ankerhuurder in ’n veelparty-regering te help vorm.

“Dit is nie ’n pypdroom nie, dit is ’n reddingsmissie. Ons tyd raak min om te red wat oor is van staatsdienste wat deur kaderontplooiing en korrupsie geërodeer is, soos siek gesondheidsorg en die wanbestuurde onderwys­sektor.”

Sy party moet optree om die Noord-Kaap van misdaad, werkloosheid, beurtkrag en beurtwater te red.

“Die DA is die enigste Noord-Kaapse party met die wil, ervaring en prestasie­geskiedenis in goeie bestuur, soos ons prestasie in die Wes-Kaap en ’n aantal munisi­paliteite getuig. Dit is ’n feit en word deur onafhanklike studies en ouditeur-generaal-verslae gerugsteun.

“Met die toekoms van ons provinsie en land op die spel, het die DA in die Noord-Kaap harder as ooit vir die komende verkiesing gewerk.”

Hul veldtog het in Augustus begin, en strukture in dorpe het in die provinsie gewerk.

“Ons het ’n rekordgetal kiesers geregistreer en ons aanlynvoetspoor het gegroei. Groot getalle kiesers het ons saamtrekke en mini-saamtrekke bygewoon.”

Hy doen ’n beroep op kiesers om op stemdag agter die party en die Veelparty­hand­vespartye te verenig.

You need to be Logged In to leave a comment.