Die skeuring in die ANC in Kimberley se Sol Plaatje-munisipaliteit het Donderdag verdiep toe Pula Thabane as burgemeester ingestem is.
Thabane het die ANC se ander burgemeesterskandidaat, Patrick Mabilo, met 33 stemme teenoor 30 geklop.
Thabane was ook die voorkeurkandidaat van die grootste opposisieparty, die DA.
Die munisipaliteit was vir maande sonder ’n burgemeester nadat Mangaliso Matika in September ná volgehoue druk en oproer as eerste burger bedank het.
ANC-raadslede van die faksie wat Mabilo ondersteun het, het Donderdag geen geheim van hul ontevredenheid met Thabane se verkiesing gemaak nie.
Manga Keetile, ANC-hoofsweep, het gesê die party het sy bes gedoen om dié situasie te voorkom. “Maar dit het nou gebeur,” sê Keetile.
“As ’n lid van die ANC het ek niks persoonliks teen jou (Thabane) nie. Onthou net: Ons het ons by die ANC aangesluit. Die ANC het hom nie by ons aangesluit nie. Vandag sit jy in daardie posisie as ’n lid van die ANC.
“Ons wil van ons kant af graag sê siyajika – ons sal terugkom!” sê Keetile.
Mpho Moshweu, ’n ANC-raadslid, het spottenderwys gesê hy is bekommerd oor Thabane se skynbare gebrek aan energie en lewenslus. Raadslede van dié faksie het hierop gelag.
Rosie Ludick, hoofsweep van Cope, het Thabane sterkte toegewens en gesê hy sou gelukkig wees as hy die volgende drie maande as burgemeester oorleef, gegewe die ontevredenheid van die ander ANC-faksie.
Ludick sê sy hoop Thabane kan dienslewering laat geskied en stabiliteit en normaliteit terugbring.
“Komiteevergaderings is agter en hy moet nou met ’n plan vorendag kom om op te vang. Die munisipaliteit is ook agter met dienslewering weens vergaderings wat nie kon plaasvind nie.”
Ludick het voorts gesê demokrasie het geseëvier, maar “ek waarborg julle dat ons weer oor ses maande sal terug wees wanneer ’n nuwe burgemeester ingehuldig word”.
Francis Thulo, hoofsweep van die EFF, het dit beaam. Hy het benadruk dat raadslede daar is om die gemeenskap te dien.
Christopher Phiri, hoofsweep van die DA, het gesê die party aanvaar Thabane as burgemeester. Hy waarsku egter dat korrupsie nie geduld sal word nie en dat Thabane tot verantwoording geroep sal word.
Wynand Boshoff, hoofsweep van die VF Plus, het op sy beurt onthul dat hy opsetlik ’n kruisie deur sy stembrief getrek het om dit te bederf.
Volgens hom staan sy party die ANC in sy geheel teen en wil die party nie betrokke raak en kant kies tussen faksies nie.
Boshoff het ook voorspel dat die bordjies tussen die twee faksies binnekort weer verhang sou word, wat die stad weer vir weke of selfs maande sou destabiliseer.
Volgens Boshoff het die krisis nadat die munisipaliteit in Mei ’n nuwe elektrisiteitstariefstruktuur ingestel het, meegebring dat die stad nou reeds drie maande lank met ’n waarnemende munisipale bestuurder, finansiële hoof en speaker sit en in werklikheid reeds twee maande sonder ’n burgemeester.
Die lank verwagte verslag oor die munisipaliteit se geldsake wat een van die punte op die agenda was, is nog nie aan die publiek voorgelê nie.
Lede van die publiek is gevra om die raadsaal te verlaat voordat die Noord-Kaapse LUR vir samewerkende regering, Bentley Vass, die verslag ter tafel gelê het.