Anders as in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE), waarin die DA met die ANC en IVP (en ander partye) saamwerk en waarby die EFF uitgesluit is, het die DA en die EFF op Vrydag 14 Junie in die Noord-Kaapse Wetgewer in Kimberley teen die ANC gewerk om hul eie kandidate vir premier, speaker en adjunkspeaker te benoem.
Op dié geleentheid is 30 Noord-Kaapse wetgewerlede ná die onlangse nasionale en provinsiale verkiesing beëdig.
Die ANC in die provinsie het sy meerderheid met 49,3% van die stemme verloor.
Daarom het die party net 15 van die 30 setels en is hy van ander partye afhanklik om besluite met ’n meerderheid deur te voer.
Regter Pule Tlaletsi, Noord-Kaapse regterpresident, het toesig oor die verkiesing gehou.
Saul is weer verkies nadat die ANC se 15 wetgewerlede, die VF Plus se een en die PA se drie wetgewerlede vir hom gestem het.
Die DA se sewe en die EFF se vier wetgewerlede het die DA se Fritz as premierskandidaat ondersteun, maar hulle is met 19 teenoor 11 stemme verslaan.
Die DA het Harold McGluwa, DA-provinsiale leier, as speaker en adjunkspeaker benoem en sy partylede en die EFF-lede het vir hom gestem.
Hulle is weer uitgestem, en die ANC se Newrene Klaaste is as speaker en Mangaliso Matika as adjunkspeaker herkies.
Die PA se ondersteuning was veral belangrik met die verkiesing van die adjunkspeaker omdat die speaker nie mag stem nie.
Saul het gesê hy sien baie uit om saam met die PA en VF Plus in sy tweede vyfjaartermyn te werk.
Die VF Plus het sekere voorwaardes gestel om saam met die ANC te werk.
Dit is dat die party voorsitterskap van sekere portefeuljekomitees verkry en dat ’n private-publieke agentskap op die been gebring word om die provinsie se infrastruktuur op te knap, en dat Orania se reg op selfbeskikking en regstatus amptelik bevestig word.
Sharifa Ferris, die PA-premierskandidaat, sê hulle het teen Vrydag nog nie ’n formele ooreenkoms of voorwaardes met die provinsiale ANC gehad nie.
“My party het opdrag van ons nasionale leiers om die ANC in die wetgewer te ondersteun.
“Ons sal ’n oorsigrol speel, want ons is steeds in die opposisiebanke.”
Kabinet, LUR-lede eersdaags aangewys
Saul sê sy kabinet en nuwe LUR-lede sal op 25 Junie aangewys word wanneer hy as premier ingehuldig word.
Drie huidige LUR’e wat nie as wetgewerlede beëdig is en nie weer as LUR’e kan dien nie, is Zolile Monakali, LUR vir onderwys; Nomandla Bloem, LUR vir vervoer en veiligheidskakeling; en Desery Fienies, LUR vir sport, kuns en kultuur.
Saul was geheimsinnig oor die nuwe kabinet.
“Ons huidige span het hard gewerk, maar unieke uitdagings in die provinsie noodsaak veranderinge.”
‘Werk nie ernstig opgeneem nie’
Sharifa Ferris, die PA-premierskandidaat, sê sy is geskok oor die toestand by die nuwe psigiatriese hospitaal buite Kimberley waar daar weens gesteelde kabels nie elektrisiteitvoorsiening is nie.
“Dit is yskoud, en emmers word in plaas van toilette gebruik. Pasiënte lê op die vloer in die son om warm te word, want daar is nie eens komberse nie.”
Nadat sy ’n video daaroor op sosiale media geplaas het, het sy reaksie van hooggeplaastes gekry wat hopelik verbetering gaan meebring.
“Die departement van gesondheid is ’n ramp. Amptenare en hooggeplaastes neem nie hul werk ernstig op nie en verplaas die blaam. Die provinsie het die laagste matriekslaagsyfer in die land. Ons kinders moet in allerlei beroepe bekwaam word om werkskepping te stu.”
VF Plus in verstandhouding oor Orania, agentskap
Wynand Boshoff, provinsiale VF Plus-leier, sê die ANC het hulle oor ’n verstandhouding genader.
“Ons wil met ons deelname ’n verantwoordbare ekostelsel skep waar ons byvoorbeeld as die voorsitter van die portefeuljekomitee munisipale bestuurders kan inroep om diensleweringsprobleme of begrotings te bespreek.
“Infrastruktuur moet deur ’n nuutgestigte agentskap opgeknap word.”
Die regsekerheid behels onder meer ook dat Orania sy eie munisipale tariewe hef en dienste lewer sonder om interafhanklik van ander munisipaliteite te wees, en andersom.
Saul sê daar is nog onbeantwoorde vrae oor Orania se regstatus wat jare gelede nie afgehandel is nie.
“Ons gaan ’n taakspan aanstel wat saam met die Orania Verteenwoordigende Raad na die besonderhede kyk om probleme op te los.”


