Die Griekwas het in hul eerste wedstryd in vanjaar se Curriebeker-reeks vasgeval teen die Pumas – dieselfde span wat die Noord-Kapenaars in Mei in die eindstryd van die SA Beker-reeks geklop het.
Met die blaas van die eindfluitjie op Vrydag 5 Julie in die Suzuki-stadion in Kimberley, het die Pumas met ’n oorwinning van 44 – 24 gejuig. Teen rustyd was die telling 25 – 12 in die besoekers se guns, en het die Poubloues nog hoop gehad om dié agterstand in te haal.
Pieter Bergh, afrigter van Griekwas, het aan Marnus Kok gesê dat hul bestuur van die wedstryd in die eerste helfte, toe hulle teen die wind gespeel het, nie goed was nie.
“Ek moet krediet aan die Pumas gee. Dit was duidelik dat hulle wraak wou neem vir die eindstryd (van die SA Beker-reeks). Dalk was ons ’n bietjie oorgerus. Indien dit wel die geval was, mag dit nooit weer gebeur nie.”
Die Griekwas het in die eindstryd van die SA Beker-reeks met 46 – 24 geseëvier.
Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, sê sy span het Vrydag goed in die lynstane en met afskoppe gevaar.
“Maar die belangrikste ding is, ons het baie goed geskrum. Ons het hulle regtig in die skrums raak gery,” sê hy.
Albert Heenop het vroeër berig dat die Curriebekerreeks ná 132 jaar steeds uiters spesiaal vir unies soos die Pumas, Griekwas en die verdedigende kampioen, die Cheetahs, is.
Griekwas is glo die gunstelingspan om vanjaar die Curriebeker te wen omdat dié unie oor ’n gevestigde span beskik. Die span se sukses in die SA Beker-reeks het die spelers se selfvertroue boonop ’n beduidende hupstoot gegee.
Nie een van Griekwas se tien Curriebeker-wedstryde word vanjaar op ’n Saterdag beslis nie; alles vind op Vrydae en Sondae plaas. Vyf van die tien wedstryde word in Kimberley gespeel.
- Griekwas-staatmaker George Whitehead is Vrydag in die eerste sewe minute met ’n enkelbesering van die veld af. Volgens Bergh gaan hy waarskynlik nie vanjaar weer in die Curriebeker-reeks in aksie wees nie. Whitehead het vroeër vanjaar sy 100ste wedstryd vir die Griekwas gespeel.
- Ná Vrydag se nederlaag het Griekwas eerskomende Vrydag 12 Julie geleentheid om hul veggees aan die Sharks in Kimberley te bewys.
Die wedstryd begin om 15:00 in die Suzuki-stadion, en kaartjies kan aanlyn of by die hekke gekoop word.
Besoek Griquas Rugby – G.W.R.U op Facebook vir meer inligting.