Ná die Suzuki Griekwas se sege oor die Toyota Cheetahs is die Poubloues bo-aan die punteleer van die Curriebeker-reeks.
Die Griekwas het Vrydagaand 29 Augustus die Cheetahs op hul tuisveld in Bloemfontein met 40-10 verslaan.
Binne die eerste 15 minute van die wedstryd het die Griekwas reeds ‘n voorsprong van 21-0 opgebou.
George Whitehead het die eerste punte aangeteken, gevolg deur Zane Bester en Caleb Abrahams. Eers in die 26ste minuut het die Cheetahs die agterstand tot 21-5 verminder.

Die Griekwas het egter hul spel volgehou en die telbord was teen rustyd 33-5 in die Poubloues se guns.
In die tweede helfte het die Griekwas se verdediging rotsvas gebly tydens die eerste 20 minute wat ‘n taai stryd was. Laat in die wedstryd het die Griekwas drie geel kaarte kort na mekaar ontvang, wat die Griekwas met slegs 12 spelers gelaat het. Maar die Cheetahs kon nie voordeel hieruit trek nie, en die eindfluitjie het met ‘n telling van 40-10 geblaas.
Volgens sarugby.co.za is Whitehead tans die toppuntemaker in die reeks.
- Op Saterdag 6 September om 17:00 ontmoet die Griekwas die Fidelity ADT Lions op Ellispark in Johannesburg.




You must be logged in to post a comment.