Voorafvervaardigde geboue gaan binnekort by die staatshospitaal in Christiana opgerig word.

Dit is sodat die gesondheidsdienste daar behoorlik hervat kan word nadat die hospitaal verlede jaar in ’n brand erg beskadig is.

Madoda Sambatha, LUR vir gesondheid in Noordwes, sê in ’n mediaverklaring ’n diensverskaffer wat die opslaangeboue sal aflewer, is onlangs aangestel.

“Die geboue sal al die nodige mediese produkte kan huisves. Voldoende hospitaaldienste sal ook uit die geboue gelewer kan word.”

Luidens die verklaring is mense in die Lekwa-Teemane- munisipale gebied, wat Christiana bedien, desperaat om weer goeie hospitaaldienste naby hulle te hê.

Die brand het in September 2021 ontstaan. Dit het die gesondheidsdienste in die gebied, inwoners en gesondheidswerkers beïnvloed.

Dienste moes sedert die brand elders in die omgewing gelewer word.

Luidens ’n verslag wat ná die forensiese ondersoek uitgereik is, het die brand weens ’n menslike fout ontstaan.

Herstelwerk aan die hospitaal sal na verwagting teen die einde van die jaar voltooi wees.

Die hospitaal sal dan 50 beddens en twee teaters vir kleiner operasies hê.

Die opslaangeboue sal volgens die departement steeds ná die voltooiing van die herstelwerk gebruik word.

Josy Sehloho, streeksdirekteur vir sake en die openbare sektor by FNB, sê die bank is “diep verbind” tot die gemeenskappe wat hy bedien.

Die mediese toerusting wat FNB geskenk het, sluit 50 hidroulies verstelbare beddens, 50 matrasse, 50 bedkassies en 50 besoekerstoele in.

Die oorblywende geld van die R1,3 miljoen wat FNB geskenk het, sal vir vervoerkoste vir pasiënte aangewend word.

Susan Cilliers

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article