Sonet van Zyl, streeksverteenwoordiger van CHOC in die Vrystaat- en Kalahari-streek

Enkele CHOC Cows tydens ’n onlangse fietsrenbyeenkoms in Gauteng.

’n Geraamde een uit 408 kinders van oor die wêreld heen word voor die ouderdom van 15 jaar met kanker of lewensbedreigende bloedsiektes diagnoseer.

In Suid-Afrika bestaan die Childhood Cancer Foundation South Africa, ook bekend as CHOC, reeds vir byna 44 jaar om dié jong kankerlyers en hul gesinne te ondersteun.

“Tydens behandeling hoef die kinders nie noodwendig elke dag in die hospitaal te wees nie, maar behandeling kan weke aaneen duur,” vertel Sonet van Zyl, CHOC-streeksbestuur vir die Vrystaat en Kalahari.

Omdat gespesialiseerde behandeling deur ’n pediatriese onkoloog nodig is, lei dit daartoe dat die kinderpasiënt wat gewoonlik deur ’n ouer of voog vergesel word, lang tye van die huis weg is.

Kinderpasiënte van oor die hele Noord-Kaap, van so jonk soos enkele maande tot tieners van ongeveer 17 jaar, moet soms dae, weke en in uiterste gevalle maande lank in die pediatriese onkologiesaal van die tersiêre akademiese Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley deurbring. Hier is dr. Liezl du Plessis die pediatriese onkoloog.

CHOC se uitgebreide programme ondersteun sulke kinders en hul gesinslede sedert die proses van diagnose en dwarsdeur behandeling, en help met onder meer psigo-sosiale, maar ook praktiese, ondersteuning.

Die praktiese ondersteuning kan onder meer verblyf, vervoer, etes en vryetydbesteding tydens behandeling insluit.

Oor die land heen is 82 mense permanent in diens van dié niewinsgewende organisasie, en 13 huise is vir die kinders en gesinslede tydens behandeling beskikbaar.

Hoewel CHOC nie ’n huis in Kimberley of elders in die Noord-Kaap het nie, het die organisasie wel ’n teenwoordigheid in die provinsie. Vanaf die RMSH ondersteun Keitumetse Malefandleleni, ’n CHOC-program-assistent, die pasiënte en hul ouers. Indien nodig, word dit in samewerking met die maatskaplike werker van die pediatrie-afdeling gedoen.

Internasionale statistiek toon aan dat tussen 100 miljoen en 150 miljoen kinders jaarliks met kanker diagnoseer word. Ongelukkig word minder as die helfte van verwagte gevalle diagnoseer, en van dié wat diagnoseer word, is reeds in ’n gevorderde stadium.

Van Zyl vertel dat daar in die res van Afrika ’n laer oorlewingsyfer in kinderkankergevalle as in Suid-Afrika is.

CHOC, as ’n nasionale organisasie, word internasionaal as ’n leier op die gebied van kinderkankerondersteuning beskou, en het sterk bande met Childhood Cancer International.

Kyk uit vir simptome

Met vroeë opsporing en gespesialiseerde behandeling is die oorlewingsyfer byna 80%.

Dié lys van simptome word die Saint Siluan-waarskuwingstekens genoem. Siluan was ’n Russiese monnik wat onverpoos vir die mensdom gebid het.

S = seek: soek mediese hulp vir simptome wat voortduur;

I = eye: wit kolle in die oë; skeelheid of oë wat vinnig geknip word, asook blindheid wat meteens voorkom; bultende oogballe;

L = lump: ’n knop of knoppe op die buikgedeelte, kop en nek, ledemate en geslagsdele;

U = unexplained: koors wat langer as twee weke voortduur, gewigsverlies, bleekheid, uitputting, of wanneer die kind maklik kneus of bloei;

A = aching: pyn in die bene, gewrigte, rug, en beenbreke wat maklik plaasvind; en

N = neurological: ’n verandering of verswakking in die vermoë om te stap, balans te behou, of te praat; ’n skielike agteruitgang in mylpale wat die kind met ontwikkeling behaal het; hoofpyne vir meer as ’n week aaneen met of sonder braking; en ’n vergrote kop.

Ouers of voogde wat die simptome by kinders of tieners waarneem, kan die CHOC-hulplyn by 0800-333-555 skakel.

Die Cows – ‘Moo are they?’

CHOC ontvang geen geld van die staat nie, en is uitsluitlik van geldinsamelingsveldtogte en skenkings afhanklik om die kinderkankerlyers te ondersteun.

CHOC Cows is ’n geldinsamelingsvertakking van CHOC, en as ’n Cow kan vrywilligers aan verskillende sportsoorte deelneem met die doel om geld vir CHOC in te samel.

Tydens deelname dra die Cows kenmerkende uitrustings met swart-en-wit patrone en saam met dit die leuse: “Love living life”.

Die stigter van Cows, ’n ouer wie se 19-maande-oue dogtertjie in 2008 aan kanker oorlede is, het besluit om die 94.7-fietsren aan te pak om geld vir Choc in te samel. Die aanvanklike idee was om kostuums wat verskillende plaasdiere uitbeeld, te dra. Maar die kostuumwinkel het net agt koei-kostuums gehad – en so het hulle “koeie” geword.

Die belangstelling en ondersteuning in Cows het gegroei, en teen 2021 het hulle reeds meer as R35 miljoen vir CHOC ingesamel.

Daar is egter verskillende maniere om CHOC te ondersteun.

Francois Theron, die hoofafrigter van die Flamingo Aquatics-swemklub in Kimberley, het byvoorbeeld in Februarie agt geborgde myle tydens die Midmar-myl-byeenkoms ten bate van CHOC geswem.

Enigeen kan produkte skenk wat die kinders of ouers tydens die behandelingstydperk weg van die huis nodig het. Toiletware vir ouers en kinders, kospakkies en soms selfs klere is van die artikels wat benodig word.

In die pediatriese onkologiesaal by die RMSH word die skenking van boeke ook gretig ingewag.

“Hoewel ons voorheen enkele boeke ontvang het, neem van die kinders die boeke huis toe wanneer hulle ontslaan word. Dit is in orde, want soms is die boek iets waaraan die kind waarde heg,” vertel Du Plessis. Volgens haar sal die deurlopende skenking van boeke ideaal wees. Dit hoef nie nuut te wees nie, maar wel in ’n bruikbare en leesbare toestand.

Boeke vir seuns en meisies, babas tot tieners, sal verwelkom word. Dit kan in Afrikaans, Engels en Tswana geskryf wees. Soms is van die ouers, wat ure daar deurbring, op soek na leesstof. Die lees van tydskrifte sal help om hul ure van wag te vul.

Raak ook betrokke by dae op die kalender, soos Flip Flop-dag wat jaarliks in Februarie plaasvind, of September wat Kinderkankerbewusmakingsmaand is.

  • Individue, ondernemings of instellings wat enige van die benodigde artikels wil skenk, kan reëlings met Malefandleleni tref deur 073-919-4526 te skakel, of ’n e-pos na keitumetse.malefandleleni@choc.org.za te stuur.
  • Kontak haar ook vir meer inligting oor die CHOC-vrywilligerskursus.
  • Besoek die webwerf choc.org.za vir meer inligting.

Kinders in die pediatriese onkologiesaal by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley sal graag wil sien dat die boekrakke in die eenheid vol boeke is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article