Inwoners van Bloemhof het die afgelope maand sowat R200 000 uit eie sak bestee om slaggate op te vul, stoptekens op te rig en straatname te verf.
Poena van der Merwe, ’n inwoner wat by die projek betrokke is, sê hulle kan nie meer saamleef met die “chaotiese toestand” van die paaie nie.
Die Lekwa-Teemane-munisipaliteit, wat die Bloemhof- en Christiana-omgewing bedien, gaan soos ander munisipaliteite in Noordwes onder geldelike probleme gebuk, terwyl faksiegevegte onder veral ANC-raadslede die probleme en verval in dienslewering verder laat verdiep.
Sebang Motlhabi, burgemeester, het onlangs net-net ’n mosie van wantroue in hom deurstaan.
Van der Merwe sê inwoners kan nie meer met agteruitgang saamleef nie.
“Ons het tot dusver 1 700 sakke teer, 250 sakke sement en 1 000 liter seëlmiddel gebruik om slaggate te vul,” sê hy.
Albert Nel, VF Plus-raadslid in Lekwa-Teemane, het die inwoners vir hul optrede geprys.
“Dit gaan oor selftrots. Ons kan nie toelaat dat dinge tot ’n sekere vlak daal nie”
Motlhabi het onlangs erken daar is “ernstige diensleweringsprobleme in die Lekwa-Teemane-gebied”.
Hy het in Julie in ’n skrywe sy kommer oor riooloorstromings, slaggate, waterlekplekke en ’n tekort aan bekwame personeel uitgespreek. Volgens hom het sy versoeke op dowe ore geval.

