Die bestuur van die Hantam-munisipaliteit in Calvinia is van links Koos Alexander (raadslid), Roger Swartz (voormalige burgemeester), Riaan van Wyk (senior bestuurder vir tegniese en gemeenskapdienste), Jan Swartz (munisipale bestuurder) en Werner Jonker (senior bestuurder vir finansies en korporatiewe dienste).Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Die Hantam-munisipaliteit in Calvinia is die eerste plaaslike munisipaliteit in die Noord-Kaap om ’n skoon oudit te behaal.

Werner Jonker, senior bestuurder vir finansies en korporatiewe dienste van die Hantam-munisipaliteit, sê die geheim tot dié suksesverhaal is dat hulle die regte kundige en gekwalifiseerde mense met grade aangestel het.

“Ons skryf dit ook toe aan die doelgerigtheid waarmee ons gewerk het en die streng kontrole wat ons in ons werk toegepas het,” het Jonker Donderdag (07/04) gesê.

Hy sê die munisipaliteit kon sedert die 2018-’19-boekjaar, met al die maatskaplik-ekonomiese uitdagings, kwynende ekonomie, maar goeie plaaslike regering, met ongekwalifiseerde ouditmenings die oudit-uitkoms vir 2020-’21 tot ’n skoon oudit verbeter.

“Ons is die eerste B-munisipaliteit in die Noord-Kaap wat die prestasie behaal het.”

Jonker sê dit is grootliks te danke aan die skep van ’n stabiele politieke omgewing deur Roger Swartz, voormalige burgemeester, en die munisipaliteit se raadslede.

“Ons deel hierdie prestasie met verskeie rolspelers, soos die provinsiale tesourie, plaaslike regering en die Namakwa-distriksmunisipaliteit.”

Jonker sê die munisipaliteit hoop om, ondanks vele uitdagings, ’n beleggers­vriendelike omgewing te skep om beleggings na die streek te trek.

Jonker sê die Hantam-munisipaliteit werk hard aan die toekoms.

“Ons het nie baie nie, maar met dit wat ons het, woeker ons en doen ons die beste wat ons kan.”

Anena Burger

You need to be Logged In to leave a comment.