Permanent opgedamde water op die padoppervlak by ’n T-aansluiting in Beaconsfield, Kimberley, veroorsaak dat voetgangers en voertuie met mekaar op sypaadjies vir beweegruimte moet wedywer.
Nie net moet besoekers aan die winkel op die hoek van Broadwayplek en Kaapstadweg na verkeer op die sypaadjie oplet nie, maar moet inwoners van die woonstelgebou op die ander hoek dieselfde doen.
Dié situasie van water wat permanent op die teeroppervlak bly, word deur vyf stukkende stopkrane in dié en omliggende strate veroorsaak en herstelwerk om dit te laat opklaar, sou nie buitengewone kennis of vaardigheid verg nie. Die water het die padoppervlak laat verkrummel en die omliggende oppervlakke in moerasagtige gebiede omskep wat volgens die inwoners ’n muskietnes is. Boonop hou die kwakende paddas hulle uit die slaap en is die digte plantegroei huisvesting vir allerlei knaagdiere en slange wat prooi soek.
Die winkeleienaar sê die water is permanent daar, en wanneer dit reën, stoot dit tot teen sy winkeldeur op. Klante wat by sy winkel uitstap, moet versigtig wees dat hulle nie op die sypaadjie deur voertuie raakgery word nie. Op die hoek is daar ’n rioollekkasie, en dit meng met die vars water uit die stopkrane. Kinders speel daarin, en beeste drink dit.
Dit word al van 2011 af aangemeld, sê Ockert Fourie, DA-raadslid van wyk 25. Hy sê om die stopkrane te herstel verg nie “rocket science” nie en dit kan maklik met die regte gereedskap gedoen word.
Fourie het in 2019 die gebied laat opruim en skoonmaak, maar sedertdien is die stormwatersloot en kanale weer heeltemal deur plantegroei en rommel verstop.
“Ons is moeg daarvoor dat Beaconsfield afgeskeep word; moeg om maklik voorkombare en regstelbare munisipale probleme te aanskou,” sê Fourie.
Inwoners stem saam dat dié woonbuurt, ryk aan geskiedenis, afgeskeep word wanneer dit by dienslewering en polisiëring kom.
Beaconsfield het in ’n dwelmnes ontaard, sê ’n inwoner wat verkies om anoniem te bly. Volgens hom is talle polisielede kop in een mus met die dwelmhuise en -handelaars.
“As jy dit aanmeld, kies hulle jou vrou of gesin as teiken wanneer jy nie daar is nie,” sê hy.
Hy vertel van die onwettige winkels wat oopmaak wat nie deur die munisipaliteit goedgekeur word nie. Juis dié winkeliers is baie keer dwelmhandelaars, meen die inwoner.
“Die munisipaliteit vat nie vir ons kop toe nie,” sê nog ’n inwoner.
“Ek is al 19 jaar hier. Mense van Beaconsfield wou al brand uit protes, maar ons het nog altyd gekeer en belowe dit sal beter gaan. Nou lyk ons soos die leuenaars.”
Volgens hom is die paaie van die woongebied nog nooit reggemaak vandat hy hier bly nie.
’n Ma van jong kinders sê sy is bekommerd oor die deksels wat van die mangate gesteel is. Die diep en oop gate is deur hoë plantegroei verberg en sy vrees dat kinders daarin kan val. Sy sê hoewel die pad voor haar huis soos ’n grondpad lyk, was dit altyd ’n teerpad.
“Kyk net al die gate in die strate. Ons straat het nie so baie gate nie, maar nou jaag die mense hier. Ek vrees vir ’n dag . . .” sê sy.
Nog ’n inwoner sê in oorgroeide gebiede word mense wat van en na hul huis of werkplek loop, geroof en aangerand. Dié gebiede is wegkruipplek vir misdadigers, en daar is baie straatligte wat nie werk nie, sê hy.
“Hier is nie polisiesigbaarheid nie. Selfs die polisie is bang vir Beaconsfield,” sê hy.
’n Ander vra waar die werkers van die uitgebreide openbarewerkeprogram (EPWP) is.
“Die EPW’s werk net in die maklike dele van Beaconsfield en maak dieselfde straat of twee oor en oor skoon,” sê sy.
Fourie het verlede week ’n lys met 26 waterlekke in Beaconsfield, Klisserville en die Memorialweg-gebied aan die munisipaliteit oorhandig. Hy wag nog vir die verwysingsnommer vir elkeen.
“Die munisipaliteit maak ’n bespotting van raadslede omdat hier geen dienslewering is nie, terwyl inwoners dienslewering deur hul raadslede verwag.”