Die uitvoerende burgemeester van die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit, sy vrou en nog twee mense moet weer op 11 Julie in die streekhof in Upington verskyn op twee aanklagte van bedrog met die finansiering van voertuie.

Marius Matthew Louw, uitvoerende burgemeester, en Gertrude, sy vrou, is Vrydagoggend (17/06) deur lede­ van die Valke in hegtenis geneem­. Louw is ook die adjunk-streekvoorsitter van die ANC in die ZF Mgcawu-distrik.

Stevie Shadrock Beukes en Bernadette Sophia Isaaks het saam met hulle verskyn.

Borgtog van R5 000 elk is aan die Louw-egpaar toegestaan en Beukes en Isaaks is elk op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Kapt. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder, sê hulle het na bewering tussen 2017 en 2018 voertuie by ’n motorhandelaar in Upington gekoop en bedrieglike dokumentasie ingedien vir die aansoek om finansiering.

Hulle het na bewering hiermee ’n wanvoorstelling aan WesBank gemaak om aan hulle voertuigfinansiering van meer as R1 miljoen toe te staan.

Die aanklagte hou verband met die aankoop van twee voertuie by die handelaar Thys Auto, waar fiktiewe indiens­nemings­dokumente glo vir Gertrude Louw voorgelê is om finansiering te verkry.

Op 27 Desember 2017 is ’n Golf VII met ’n waarde van R975 207,90 (finansieringskoste ingesluit) gekoop en op 8 Januarie 2018 ’n Ford Ranger met ’n waarde van R709 130,85 (insluitend finansieringskoste).

Die voertuie is deur WesBank teruggeneem nadat hulle die hooggeregshof genader het en ’n hofbevel in hul guns toegestaan ??is.

Deshi Ngxanga, sekretaris van die ANC in die Noord-Kaap, het Vrydag gesê in die lig van die aanklagte teen Louw sal die ANC ’n beroep doen op Louw om opsy te staan. – Anena Burger

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article