padlock on bars
Ter illustrasie FOTO: Ron Lach / pexels.com

‘n Zimbabwiër wat onwettig in die land is en drie mense se dood in twee ongelukke kort op mekaar in Kimberley veroorsaak het, is verlede week tot direkte tronkstraf van 13 jaar gevonnis.

In effek sal hy agt jaar in die gevangenis wees, waarna hy ingevolge streeklanddros Elvis Morolong se uitspraak gedeporteer moet word.

Collin Nhlanga (39) het in ‘n pleitooreenkoms beken hy was agter die stuur van die wit Nissan Navara-bakkie wat op 30 Junie 2024 omstreeks 14:30 ‘n voetganger by die kruising van Barklyweg en Seleke-straat in Homelite getref het. Dié voetganger was Omphile Jonas (16), ‘n leerling aan die Hoërskool Vuyolwethu en belowende krieketspeler wat vir Noord-Kaap Krieket gespeel het.

Nhlanga het weggejaag en teen ‘n hoë spoed agter in ‘n taxi vol PA-vrywilligers by ‘n rooi verkeerslig in Homestead in Barklyweg vasgery. Videomateriaal toon hoe die minibustaxi met 14 passasiers daarbinne ná die botsing omslaan en op die sypaadjie te lande kom. Mi-Kayla Booysen (19) en Cavino Matthews (24) was passasiers in die minibus. Booysen is op 2 Julie 2024 aan haar beserings oorlede en Matthews op 19 Julie 2024.

Kedametsi Talis wat agter Nhlanga in die bakkie gesit het, het in die hof getuig hoe hulle daardie dag eers by ‘n sportveld alkohol geniet het, maar volgens haar het Nhlanga nie “so baie gedrink nie.”

Vandaar het hulle in Kimberley se rigting gery, sy agter, en haar niggie, Sheila en Nhlanga se meisie, was die voorste passasier. Ná die eerste ongeluk het Nhlanga teen ‘n hoë spoed van die toneel weggejaag. Sy het hom gevra om stadiger te ry.

Nog ‘n getuie, Ronaldo Raaf, was ‘n motoris wat die Navara gewaar wat van voor af teen ‘n hoë spoed oor spoedhobbels aangekom het. Die maroen motor by die verkeerslig het vinnig padgegee net voordat die bakkie die minibus getref het. Dit het op die sypaadjie beland en omgeslaan.

‘Roekelose gedrag geskets’

Nhlanga wat reeds ‘n jaar in aanhouding deurgebring het, is onskuldig bevind op aanklag van dronkbestuur.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê die beskuldigde is tot 13 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis ná sy skuldigbevinding op drie aanklagte van strafbare manslag, versuim om hulp op die toneel van ‘n ongeluk te verleen, en ‘n oortreding van die Immigrasiewet.

Senakoatsane sê die aanklaer, Mothelesi Katlego Thothela, het met getuienis van vyf staatsgetuies gelei.

“Hul getuienis het ‘n duidelike en verdoemende weergawe van roekelose gedrag geskets. Die hof het bevind dat Mhlanga met growwe nalatigheid opgetree het en dat sy optrede tot die verlies van drie lewens gelei het. Sy weergawe van die gebeure is deur die hof as vals en teenstrydig verwerp.

“Ter verswaring van vonnis het die staat slagofferimpakverklarings ingedien wat saamgestel is met die ondersteuning van die proefbeampte, Lindokuhle Sikhakhane. Mi-Kayla se pa, ‘n paramedikus, het ‘n roerende getuienis gelewer van sy vergeefse poging om sy dogter op die toneel te red. Omphile se ma en Cavino se broer het oor die diep trauma en blywende pyn wat hul families gely het, getuig.”

Nhlanga is vyf jaar gevangenisstraf opgelê vir die dood van Omphile, en vyf jaar elk vir die dood van Mi-Kayla en Cavino, wat vir twee jaar opgeskort is. Voorts is hy weens die versuim om bystand te verleen tot drie jaar gevangenisstraf en R600 boete of vier maande gevangenisstraf vir die oortreding van die Immigrasiewet gevonnis. Dit sal gelyklopend uitgedien word.

You need to be Logged In to leave a comment.