Terwyl sy bobene beurtelings deur die buffelbul se horings deurboor is en hy hulpeloos gehang en in die lug gegooi is, het Louis Roelofse nie pyn gevoel nie.
Maar vier dae ná sy skermutseling met die buffel van nagenoeg 870 kg kan dié 49-jarige beroepsjagter van Northam in Limpopo met alle eerlikheid sê: “My lyf is m**r seer.”
Roelofse, tans in die Mediclinic Gariep in Kimberley waar hy op Donderdagnag 4 Julie ’n noodoperasie ondergaan het, sê dit is genade dat hy leef.
Benewens albei sy bobene wat sentimeters van die slagare deurboor is, het ’n horing drie van sy linkerkantse ribbes aan die voorkant gebreek, en twee agter.
Die horing het boonop sy linkerlong met 12 mm gemis.
Albei sy boarms het diep gaffelmerke; en Roelofse het ’n gaffelhou in die een kuit, sy agterkop het ’n sny en oral oor sy lyf is rowe.
“Louis moet veel meer as ’n honderd krammetjies aan sy lyf hê wat die wonde heg,” sê sy vrou, Nantha.
Dreineringspype is steeds in die groot en diep wonde, en daar moet nog besluit word of van sy gebreekte ribbes geheg moet word.
Roelofse, wat sedert 1998 ’n beroepsjagter is, vertel dat hy en ander jagters verlede week na ’n plaas naby Kameel in die Noordwes is om 32 blouwildebeeste uit te skiet nadat die Kuipers-groep, vir wie hy werk, die plaas aangeskaf het.
“Die uitskiet Donderdag het goed verloop. Teen 15:25 is die laaste foto’s geneem – en soos die gebruik is, is die area deurgegaan om moontlik gekweste diere te vind.
Met die deurgaan van die gebied het hy en Christopher le Maitre, asook Werner Loest wat toe die voertuig bestuur het, ’n blouwildebeeskoei gesien wat van kant gemaak moes word. Roelofse en Le Maitre is te voet agter haar aan omdat hulle weens die digte vaalbosse nie ’n oop skoot op haar sou kon kry nie.
“Christopher is links om ’n vaalbos, en ek regs om. Daar loop ek my toe in die blouwildebeeskoei vas, wat waarskynlik vir die buffel gaan staan het.
‘Toe hoor ek die buffel snork’
“Dis toe die blouwildebees omvlieg en hardloop dat ek die gesnork van ’n buffel agter my hoor. Met die omdraai was die buffel so naby dat ek my linkerhand op sy horings sou kon sit.”
Die buffel het Roelofse onmiddellik aan die arm gehaak en in die lug gegooi. In die proses het hy sy .270 Winchester verloor.
“Ek het glo skote met my 9 mm-pistool geskiet wat nog by my was. Ek kan dit nie onthou nie; wel dat ek die 9 mm in sy oog gedruk het.”
Die skoot het nie afgegaan nie omdat die loop se “fail-safe”-meganisme dit verhoed het omdat die loop so styf teen die buffel vasgedruk was. Op daardie stadium het die buffel Roelofse so vas teen die grond gedruk dat hy nie sy arm verder terug kon beweeg nie.
Intussen het Le Maitre ook ’n paar skote geskiet, en probeer om Loest en die ander se aandag te trek.
Omdat dit nie ’n buffeljag was nie, het die groep nie die regte kaliber vir buffelskiet by hulle gehad nie.
Of hy heeltyd by sy bewussyn was, weet Roelofse nie.
“Ek was op ’n stadium in ’n spiraal, en het Halleluja-liedere waarmee ek grootgeword het, gehoor. Dit het heeltyd in my kop afgespeel.”
Die ander voertuie het opgedaag en terwyl ’n kordon voertuie om Roelofse getrek is, het Le Maitre begin om noodhulp toe te pas.
Die buffel was steeds daar “om klaar te maak wat hy begin het”.
Daar was heeltyd die vrees dat die buffel oor die voertuie sou spring en nog mense beseer.
Om die buffel sonder die regte kaliber van kant te probeer maak, sou hom net verder wond en sy aggressie aanwakker.
Roelofse se vrou is intussen telefonies van die buffelaanval in kennis gestel, en die woorde wat sy onthou, is: “Dit lyk sleg; dit lyk regtig sleg.”
Sy vertel dat sy die meer as 500 km vanaf Northam na Kimberley gebid het.
‘Dit is met genade dat ek leef’
Terwyl vir die Rocket Hems-lugambulans vanaf Kimberley gewag is, het suster Nelie Steyn van die aftreeoord in Stella kom help, asook dr. Andeleen Grobbelaar van Delareyville, al was sy met kraamverlof.
“Daar was baie bloed oral om my. Toe hoor ek dis my bloed; nie die buffel s’n nie,” vertel Roelofse.
Intussen is ’n gebied in die bos skoongemaak vir die lugambulans om te land. Met Rocket Hems se aankoms het die dokter aanboord nog so 90 minute aan Roelofse gewerk voordat die ongeveer 70 minute se terugvlug Kimberley toe aangepak is.
“Dit is met genade dat ek leef. Ek weet nie hoe iets soos dit sonder die Here moet wees nie; die lewe sonder God as deel van die pakkie is ondenkbaar.”
Roelofse en sy vrou bedank almal op die toneel, en elkeen wat ’n bydrae gelewer het – hetsy fisiek, deur dokters en mediese afvoer in die hande te probeer kry, of deur die ondersteuning van gebede.
Roelofse, wat al eenmaal vantevore “vinnig” ’n gemsbokhoring deur ’n knie gehad het, sê ’n mens kan nie keer vir so iets om te gebeur nie, en is trots om ’n beroepsjagter uit die ou skool te wees.
Vir nou is een van die vele belangrike waarnemings wat in die Mediclinic Gariep gedoen moet word – wie se personeel hy as “ongelooflik vriendelik en werklik behulpsaam” beskou – om sy infeksietelling weens al die wonde te moniteer.
Dan moet Roelofse ook nog besluit of hy wel die voorstel van ’n vriend wil aanvaar om die liedjie met die woorde: “Het jy al ’n buffel op die lippe gesoen?” as sy telefoonluitoon te kry.