Bruisende skouspel duur voort by Augrabies-waterval -‘plek van groot geraas’

,

Besoekers kan steeds die Augrabies-waterval vanaf die oop uitkykpunte besigtig nadat van die punte vir veiligheidsredes toegemaak is.

augrabies-waterval soos in Mei vanjaar

Besoekers stroom steeds na die Augrabies-waterval in die Noord-Kaap waar ‘n dramatiese hoeveelheid water tans in die ravyn afstort.

Teen Vrydagoggend 2 Mei het dié waterval in die Augrabies- Nasionale Park ‘n vloeitempo van 3 991 kubieke meter per sekonde (kumek) bereik. Normaalweg word ‘n vloeitempo vanaf 30 – 50 kumek by die waterval aangeteken. Só sê JP Louw, nasionale woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke).

Vir vanjaar word ‘n piek van nagenoeg 4 700 kumek voorspel.

“Besoekers kan verwag om ‘n skouspelagtige en donderende vertoning te beleef wat na verwagting vir ‘n paar weke sal voortduur.” Louw het Vrydag gesê weens die stygende watervlak is sekere dele tydelik vir besoekers gesluit.

‘n Video wat die afgelope week by die Augrabies-waterval geneem is. Video: Verskaf

“Op die stadium is slegs drie van die uitkykpunte by die waterval oop, terwyl die ander as voorsorgmaatreël toegemaak is,” sê Louw.

Ander dele in die park wat tydelik toegemaak is, sluit die wildkyk-gebied en piekniek-area in. Ongeag hiervan, bly die park vir besoekers oop, bevestig Louw.

“Ons moedig mense aan om voordeel te trek uit hierdie besondere natuurverskynsel. Die waterval is werklik ‘n wonderlike gesig.”

In tye wanneer ‘n lae vloeitempo beleef word, stort slegs die hoofwaterval in die ravyn af. Wanneer ‘n verhoogde vloeitempo ondervind word, vorm nog watervalle. Saam stort dit as ‘n druisende skouspel in die ravyn af. Augrabies se naam beteken juis “die plek van groot geraas”.

Vir die jongste opdatering oor die watervloei, om ‘n besoek aan Augrabies te beplan, of om verblyf te bespreek, besoek sanparks.org of kontak die park direk by 054 452 9205. Hoë oproepvolumes word tans ervaar, sê Louw.

Besoektye vir dagbesoekers aan die Augrabies- Nasionale Park is Maandae tot Saterdae vanaf 07:00 tot 18:00. Op Sondae en vakansiedae is besoektye vanaf 07:00 tot 17:00.

Dagbesoekers word nie ná 17:00 deur die hekke toegelaat nie.

Vloed van 1974, 1988 nog nie geëwenaar

Die huidige vloeitempo by die Augrabies-waterval is deur wydverspreide reën veroorsaak wat die afgelope weke oor die land heen voorgekom het. Dit het tot verhoogde watervrylating vanaf die Vaal- en Gariepdam gelei. Dié water uit die Vaal- en Oranjerivier kom by die samevloeiing by Douglas in die Noord-Kaap byeen.

Vandaar vloei dit saam vir honderde kilometer as die Oranjerivier en al dié water stort by die Augrabies-waterval af. Nie te ver vanaf die Augrabies-waterval vorm die Oranjerivier die grens tussen Suid-Afrika en Namibië – rofweg in die wye omgewing van Suikersteek en Rooi Veldskoen.

Die Oranjerivier mond dan ongeveer 430 km wes vanaf Augrabies in die Atlantiese oseaan uit, met Alexanderbaai in sy Suid-Afrikaanse gebied en Oranjemund in die Namibiese gebied. In totaal is die Oranjerivier ongeveer 2 300km lank vanwaar dit in die Lesotho-berge ontspring tot dit by Alexanderbaai uitmond. Dit is die langste rivier in Suid-Afrika.

Teen Paasnaweek vanjaar was ‘n vloei van ongeveer 3 000 kumek aangeteken, het Genevieve Maasdorp, kommunikasiebestuurder van SANParke se ariede streek, vroeër gesê.

Maasdorp sê tydens die vloed van 2023 het die vloei by Augrabies-waterval ‘n piek van 4 596 kumek bereik. Sy sê dit was die hoogste wat dit gemeet was ná die vloed in 2011, toe dit by 4 799 kumek gepiek het.

In 1974 het die watervloei by net oor die 8 000 kumek gepiek, en in 1988 by ongeveer 7 800 kumek.

Magrieta Solomons, vir die afgelope 17 jaar die “ruggraat en regterhand” by Die Pienk Padstal by Kakamas. Sy staan by die vloedmerk van 1988 toe die water op dié hoogte deur die padstal gevloei het. Die padstal is net ná die Kakamas-brug oor die Oranjerivier langs die N14 geleë. Tans is die watervlak nog baie ver van die padstal. Foto: Anne-Mari Barnard

Trekker byna onder water, maar trek deur

Terwyl besoekers na die Augrabies-waterval stroom, spook mense hoër op teen die Oranje- en Vaalrivier om letterlik en figuurlik kop bo water te hou.

Vroeër in April het ‘n video van ‘n boer op ‘n trekker, met ‘n volgelaaide sleepwa, baie aandag op sosialemediaplatforms getrek. Die naelbyt-ervaring het glo op Saterdag 26 April hoër op in die Vaalrivier, tussen Scandinaviadrift en Viljoenskroon, gebeur.

Die trekker en wa met passasiers, het kos- en ander voorraad na gemeenskapslede geneem. Hulle was weens die hoë watervlak van die Vaalrivier, wat hier die grens tussen die Vrystaat en die Noordwes-provinsie vorm, afgesny:

You need to be Logged In to leave a comment.