Saans lees Mamma Bybelstories, maar dit word kort-kort onderbreek.
Oudste se denkbeeldige gevegte of renbaan-resies moet tot orde geroep word wanneer die aksie of volume te veel word.
Mamma vra voordat sy begin lees of Ouboet se ore “oop” en “werkend” is.
Sy het al vrede daarmee gemaak dat die Dromer sukkel om stil te sit of te staan. Hy blyk ’n kinetiek-leerling te wees.
Mamma onderbreek ook die lesery om prentjies te wys met die hoop dat iets vassteek, want soms is “Jesus” sy standaard-antwoord op elke vraag.
Ondanks Mamma se beste pogings en gebede, twyfel sy soms of die saad suksesvol ontkiem.
Groot is die verligting toe Oudste een Sondagaand vir kaas op ’n Jesusbroodjie vra. Verward vra Mamma wat hy daarmee bedoel, want nagmaalbroodjies is piepklein.
“Those bread the one guy had given Jesus with the fish,” verduidelik hy.
Die vorige dag het Pappa mini-broodjies gekoop waarvan party met die hulp van ’n vleisbraaivuur in mini-knoffel- en -kaasbrood omskep is.
Gelukkig is die genade groot, was daar nog “Jesusbroodjies” oor en blyk die impak van Kinderbybelprentjies (hopelik) blywend te wees.
Nou weet Mamma Oudste se oë werk; die ore is egter nog ’n raaisel en werk slegs met tye – nes Eskomkrag.

